En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was
- 3 minutes read - 458 wordsLukas 8: 26-56
Jesus en Sy dissipels het van Galiléa na Gádara gegaan. By Gádara het ‘n geestelike versteurde man Jesus tegemoet gekom. Jesus het baie demone uit hom gedryf, maar die mense van Gádara was nie beïndruk met sy genesing nie en het Jesus weggejaag. Een man het Jesus ontvang in Gádara en een man is genees in Gádara. Elke mens is belangrik in God se oë (Lukas 15:1-10) en Hy wil almal red (2 Petrus 3:9). Jy is belangrik vir God. Daarna het Jesus terug geseil na Galiléa waar baie mense (“‘n menigte of skare”) vir Hom gewag het. Jesus was netso gemaklik met die een persoon as wat Hy met die groot groep mense was. Ek glo dit was moontlik omdat Jesus Hom dikwels afgesonder het by God.
Jaïrus het Jesus gevra om na sy huis te kom, want Jaïrus se twaalfjarige dogter was dodelik siek. Oppad daarheen het ‘n vrou wat aan bloedvloeiing gely het aan Jesus se klere geraak. Jesus kon voel hoe die krag uit Hom beweeg soos sy genesing gevind het na 12 jaar. Die vrou het Jesus gesoek en haar geloof het haar gered. Let op na die kontras wanneer Jesus by Jaïrus se huis kom. Hier vind Hy mense met geen geloof wat Hom uitlag, want hulle weet die dogtertjie is dood. Jesus het die paar mense met geloof saam met Hom geneem en die dogtertjie beveel om op te staan. Haar gees het teruggekeer na haar liggaam en sy kon eet. Wat jy weet kan jy dus nie vetrou nie. Die mense het geweet die dogtertjie is dood. Jy weet jy skuld geld, of jou huwelik is in die moeilikheid of jy is werkloos of jy is siek. Jy weet jy het ‘n vreeslike goed gedoen. Jesus is groter as dit wat jy weet. Daar is ‘n geestelike wêreld om jou wat beter weet. God lewe, Jesus het vir ALLES betaal en wanneer hy Hom soek kan jy gevul word met die Heilige Gees. Wanneer jy jou afsonder met God kan jy antwoorde kry vir al jou probleme. Moenie dat dit wat jy weet jou stop nie. God weet beter.
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
ROMEINE 12:2 AFR53
Daar is soveel lesse te leer uit hierdie verse:
• Jy is belangrik vir God.
• ‘n Legio (klomp/baie) demone of sonde is nie te veel vir God om te hanteer nie.
• Of jy ‘n introvert of ekstrovert is God kan jou gebruik.
• Wag op God.
• Geloof in God is belangrik.
• Moenie vaskyk in wat jy weet nie.