ESRA
- 5 minutes read - 972 wordsGod het in Koning Kores se hart gewerk en daarom het hy die Jode beveel om terug te keer na Juda en Jerusalem. Hulle was vir 70 jaar in ballingskap nadat Koning Nebukadnésar hul na Babel geneem het. Jeremia het profeteer dat dit sal gebeur (Jer 25:11,12; 29:10; 33:10-14). Dis belangrik om te onthou dat die boeke van die Bybel nie noodwendig in chronologiese orde is nie.
“Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin klaargemaak, en die priesters en die Leviete — elkeen wie se gees God opgewek het om op te trek, om die huis van die Here wat in Jerusalem is, te bou. En almal wat rondom hulle was, het hul hande versterk met silwervoorwerpe, met goud, met goed en vee en kosbare geskenke, behalwe alles wat hulle as vrywillige gawe aangebring het. En koning Kores het die voorwerpe van die huis van die Here uitgelewer wat Nebukadnésar uit Jerusalem weggevoer en in die huis van sy god gesit het.”
ESRA 1:5-7 AFR53
’n Groep van 42 000 mense het terugkeer na Israel. Serubbábel, wat die tempel moes bou, was deel van hierdie groep. Al die goue en silwer voorwerpe wat uit die eerste tempel geneem is, is ook aan hulle teruggegee. God se feeste is weer gevier en die fondasies van die tweede tempel is gelê. In Esra 4 sien ons dat die Samaritane die bou van die tempel gestop het. Wees versigtig na wie en wat jy luister.
“Toe het die volk van die land die hande van die volk van Juda laat verslap en hulle afgeskrik om nie te bou nie. En hulle het raadgewers teen hulle gehuur om hulle plan te verydel al die dae van Kores, die koning van Persië, tot op die regering van Daríus, die koning van Persië.”
ESRA 4:4-5 AFR53
In Esra 5 word die bouery hervat nadat die profeet Haggai (Haggai 1 ) en die profeet Sagaría (Sagaría 4) woord van God ontvang het.
“Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die Here aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare. Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ’n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom! En die woord van die Here het tot my gekom en gesê: Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die Here van die leërskare my na julle gestuur het. Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe — die oë van die Here wat die ganse aarde deurloop — met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel?”
SAGARÍA 4:6-10 AFR53
Koning Daríus van Persië het die Jode toegelaat om weer te bou en die tempel te voltooi.
“Laat die werk aan daardie Godshuis toe; die goewerneur van die Jode en die oudstes van die Jode mag daardie huis van God op sy plek bou. En mag God wat sy Naam daar laat woon het, elke koning en volk neerwerp wat sy hand uitsteek om dit te oortree, om naamlik hierdie Godshuis in Jerusalem te verwoes. Ek, Daríus, gee bevel; sorgvuldig moet dit uitgevoer word. En die oudstes van die Jode het gebou en goed gevorder deur die profetiese werksaamheid van die profeet Haggai en Sagaría, die seun van Iddo; en hulle het gebou en voltooi op bevel van die God van Israel en op bevel van Kores en Daríus en Artasásta, koning van Persië. En hierdie huis was klaar op die derde dag van die maand Adar; dit was die sesde jaar van die regering van koning Daríus.”
ESRA 6:7, 12, 14-15 AFR53
Nadat die tweede tempel gebou is het Koning Artasásta vir Esra, die priester van Babel na Jerusalem gestuur om diens in die tempel te doen. Almal wat wou terugkeer na Juda kon nou terugtrek. God het dus 3 ongeredde konings gebruik om Sy tempel te herbou en Sy mense terug te laat keer na Juda. God kan vandag steeds ongeredde mense gebruik om jou te help met jou missie.
“Want slawe is ons; in ons slawerny egter het onse God ons nie verlaat nie, maar Hy het ons guns laat vind voor die konings van Persië, sodat hulle ons verademing geskenk het om die huis van onse God weer op te rig en sy puinhope te herstel en ons ’n muur te gee in Juda en Jerusalem.”
ESRA 9:9 AFR53
Ongelukkig was die mense weer ongehoorsaam en het sonde gedoen in God se oë (Esra 9). God gee in elke generasie vir ons “’n klein oomblik van genade”. In daardie “oomblik van genade” het mense se oë oopgegaan en kon hulle die waarheid sien. Hulle kon duidelik sien wat hulle verkeerd doen.
“En nou was daar vir ’n klein oomblik genade van die kant van die Here onse God, om vrygeraaktes vir ons te laat oorbly en ons ’n pen te gee in sy heilige plek, sodat onse God ons oë verhelder het en ons ’n bietjie verademing geskenk het in ons diensbaarheid.”
ESRA 9:8 AFR53
Die mense het besluit om vergifnis te vra. God gee vir ons oomblikke om terug te keer na Hom. Ek glo God gebruik hierdie moeilike tyd (wat satan veroorsaak het) om ons almal nader aan Hom te bring. Ek glo hierdie is Suid-Afrika se “genade oomblikke”. Kom ons vra vergifnis namens ons nasie en bou saam aan ’n nuwe Suid-Afrika vir Jesus.
“en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”
II KRONIEKE 7:14 AFR53