EXODUS 1
- 2 minutes read - 254 wordsJakob en sy 11 seuns het na Egipte getrek tydens die hongersnood. Dit was moontlik omdat Josef reeds in Egipte was en vir die Farao gewerk het. Sewentig afstammelinge van Jakob het na Egipte getrek. God was met hulle en daarom het hulle baie meer en magtig geword. Nadat Josef gesterf het en ‘n nuwe Farao regeer het, het die Egiptenare bekommerd geraak. Die Egiptenare het die Israeliete hul slawe gemaak om te probeer keer dat hulle meer raak.
“Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel.”
EXODUS 1:12 AFR53
Toe die Egiptenare sien dat dit nie werk nie het die Farao vir die vroedvroue opdrag gegee om die baba seuntjies te laat sterf. Die vroedvroue het Egipteland en die Farao se wette verontagsaam. Die vroedvroue het die seuntjies laat leef en God het die vroedvroue geseën. God het vroue wat die landswette verbreek het geseën, want hulle het God voor hulle landswet geplaas.
Dit is meer as 4000 jare later en regerings wil steeds God se kinders onderdruk. Hulle wil steeds ons babas aborteer. Die vyand se planne lyk steeds dieselfde. God se wette is steeds belangriker as landswette. As jy jouself in ‘n ongemaklike posisie ondervind, onthou diamante word gevorm onder hoë druk. Goud word gesuiwer by baie hoë temperature. Kom ons maak die vyand bang. Alle pogings om ons te onderdruk sal misluk, want God seën ons. Bly getrou aan God en jy sal vermenigvuldig.