FILÉMON
- 2 minutes read - 287 wordsPaulus het ‘n brief vanuit die tronk in Rome aan Filémon geskryf. Filémon het in Kolosse, ‘n stad in Klein-Asië (vandag Turkye), gewoon en het ‘n huiskerk gehad. Die naam Filémon beteken “liefdevol”. Paulus prys Filémon dan ook vir sy geloof en liefde vir sy medemens.
Paulus skryf dan aan Filémon dat hy in ‘n posisie is om aan hom instruksies te gee, want Paulus het Filémon na Jesus gelei. Paulus sou dit egter verkies dat Filémon uit deernis en liefde reageer op sy versoek. Filémon se slaaf, Onésimus, het gevlug uit Kolosse en as gevangene in Rome beland. Paulus het ook Onésimus na Jesus gelei. Onésimus beteken “waardevol en bruikbaar”. Paulus se versoek aan Filémon is om Onésimus as ‘n mede-gelowige in liefde te ontvang eerder as ‘n slaaf. Later in Kolossense 4 vers 9 lees ons dat Paulus Onésimus uitstuur na Kolosse, as ‘n “getroue en geliefde” broerder.
Onésimus was eens ‘n slaaf. Hy het gevlug van sy eienaar (Filémon) om dan in die tronk te beland. Soms probeer mense vlug van hulle omstandighede om dan in ‘n slegter posisie te beland. Onésimus was altyd waardevol en bruikbaar in God se oë, maar eers toe hy Jesus ontmoet kon sy omstandighede verander. Jesus was die anftwoord vir Onésimus se probleme. Dit is ‘n ware verlossing storie van vergifnis en liefde. Ons was almal slawe, maar nou is ons vry. Almal het potensiaal, selfs die bedelaar of dief.
Daar word geglo dat Onésimus na Timótheüs se dood die Biskop van Efese geword het. Hy het getrou aan Jesus die Woord verkondig totdat hy weer in Rome in die tronk beland het. Hy is gestenig en daarna onthoof vir sy geloof.
Bron: The Passion Translation (TPT)