GASA (GAZA)
- 8 minutes read - 1561 wordsOns almal het ons opinie oor die oorlog in Israel. Dit is belangrik om te weet wat God sê oor Gasa. Ek het elke vers oor Gasa opgesoek en dit is duidelik dat daar altyd ‘n stryd was oor die besetting van Gasa. Ons weet dat die geestelike geveg nog groter is as die fisiese oorlog.
Gasa is aan die suidwestelike grens van Israel en oos van die Mediterreense See. Die noorde van Egipte grens aan Gasa. Gasa is deur Egipte beheer tot met die “Ses Dag Oorlog” in 1967 wanneer Israel beheer daaroor geneem het. In 2005 het Israel geheel en al beheer van die area oorhandig aan Palestinië. Met ‘n verkiesing in 2006 het Hamas gewen en die terroriste groep het sedertien geen verkiesings in Gasa toegelaat nie. Daar woon ongeveer 2,3 miljoen mense in Gasa. Die “gewone mense” in Gasa is baie arm en kry swaar onder Hamas. Daar is gereeld konflik tussen Israel en die Gasa - Strook.
Gasa - Strong’s H 5804 & G1048 - “strong” - sterk
Die Israeliete het Kanaän as erfdeel van God ontvang. Die Gasa - Strook en die Wesbank wat vandag deur die Palestyne beheer word was deel van die erfporsie van die stam van Juda (die Jode). Josua en die Israeliete het nooit die Gasa - Strook ingeneem nie.
“En die gebied van die Kanaäniete was van Sidon af in die rigting van Gerar tot by Gasa, in die rigting van Sodom en Gomorra en Adma en Sebóim tot by Lesa.”
GÉNESIS 10:19 AFR53
“En Josua het hulle verslaan van Kades-Barnéa af tot by Gasa, en die hele land Gosen tot by Gíbeon. En al hierdie konings met hulle land het Josua in een slag geneem, omdat die Here, die God van Israel, vir Israel gestry het.”
JOSUA 10:41-42 AFR53
“Niemand van die Enakiete het oorgebly in die land van die kinders van Israel nie; net in Gasa, in Gat en in Asdod het hulle oorgebly.”
JOSUA 11:22 AFR53
Ekron, Gasa, Asdod, Áskelon en Gat was die 5 bekendste stede in Kanaän.
“van die Sihor aan die kant van Egipte af tot by die grens van Ekron na die noorde, wat as Kanaänities gereken word; die vyf vorste van die Filistyne: dié van Gasa en dié van Asdod, dié van Áskelon, dié van Gat en dié van Ekron, en die Awiete”
JOSUA 13:3 AFR53
“Dit is die erfdeel van die stam van die kinders van Juda, volgens hulle geslagte.” ………
“Ekron met sy onderhorige plekke en sy dorpe; van Ekron af en na die weste toe, alles wat aan die kant van Asdod lê, met hulle dorpe; Asdod, sy onderhorige plekke en sy dorpe; Gasa, sy onderhorige plekke en sy dorpe, tot by die spruit van Egipte en die Groot See saam met sy gebied;”
JOSUA 15:20,45-47 AFR53
Na Josua se dood het die stam van Simeon vir Juda gehelp om Gasa te beset.
“En Juda het saam met sy broer Símeon getrek, en hulle het die Kanaäniete verslaan wat in Sefat gewoon het en dit met die banvloek getref; daarom noem hulle die stad Horma. En Juda het Gasa met sy grondgebied en Áskelon met sy grondgebied en Ekron met sy grondgebied ingeneem. En die Here was met Juda, sodat hy die gebergte in besit geneem het; maar die bewoners van die laagte kon hy nie verdrywe nie, omdat hulle ysterwaens gehad het.”
RIGTERS 1:17-19 AFR53
Die Israeliete het sonde gedoen en daarom het die vyand hulle landerye in Gasa geplunder. God het Gideon gestuur om Israel te red.
“Want as Israel gesaai het, dan trek die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste uit, en trek teen hulle op: slaan laers teen hulle op en verwoes die opbrings van die land in die rigting na Gasa, en hulle laat geen lewensmiddele, geen skaap of bees of esel in Israel oorbly nie.”
RIGTERS 6:3-4 AFR53
Weens die sonde van Israel het die Filistyne beheer oor Israel gehad vir 40 jaar. God het vir Simson gestuur om Israel te verlos van die Filistyne. Simson was ‘n gevangene in Gasa.
“EN Simson het na Gasa gegaan en daar 'n hoer gesien en by haar ingegaan.
Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis.”
RIGTERS 16:1, 21 AFR53
In die tyd wat Elí en sy seuns sterf, het God se heerlikheid (íkabod) Israel verlaat - 1 Samuel 4-6. Die Filistyne het die verbondsark geneem en langs die afgod Dagon geplaas in hulle tempel. Die verbondsark is gestuur van stad na stad omdat daar chaos ontstaan sodra die verbondsark daar aankom. Die mense het gewasse gekry en daar was ‘n muisplaag. Na 7 maande het die Filistyne die verbondsark teruggestuur met goue beelde vir elke stad. Gasa was 1 van hierdie stede.
“En die Leviete het die ark van die Here afgehaal met die kissie wat daarby was, waar die goue voorwerpe in was, en op die groot klip neergesit; en die manne van Bet-Semes het dieselfde dag aan die Here brandoffers geoffer en slagoffers geslag. En toe die vyf vorste van die Filistyne dit sien, het hulle dieselfde dag teruggegaan na Ekron. En dit is die goue geswelle wat die Filistyne as 'n skuldoffer aan die Here teruggegee het: vir Asdod een, vir Gasa een, vir Áskelon een, vir Gat een, vir Ekron een. En die goue muise was volgens die getal van al die stede van die Filistyne wat aan die vyf vorste behoort het, van die versterkte stede sowel as van die onbemuurde dorpe. En die groot klip waar hulle die ark van die Here op neergesit het, is tot vandag toe getuie op die stuk land van Josua, van Bet-Semes.”
I SAMUEL 6:15-18 AFR53
Koning Hískia (Hezekiah) het op God vertrou en kon die Filistyne verslaan en sodoende Gasa terugneem.
“Hy het op die Here, die God van Israel, vertrou, sodat onder al die konings van Juda ná hom en die wat voor hom gewees het, niemand soos hy was nie. Hy het die Filistyne verslaan tot by Gasa en sy grondgebied, van wagtoring af tot versterkte stad.”
II KONINGS 18:5, 8 AFR53
Later is die Filistyne verslaan en Gasa is deur die Egiptenare ingeneem.
“DIE woord van die Here wat aangaande die Filistyne tot die profeet Jeremia gekom het voordat Farao Gasa verslaan het.”
“‘n Kaal plek het op Gasa gekom; Áskelon is vernietig, die oorblyfsel van hulle dal. Hoe lank sal jy jou stukkend kerwe?”
JEREMIA 47:1, 5 AFR53
Amos het ook profeteer dat die Filistyne en o.a. Gasa verslaan sal word.
“DIE woorde van Amos, een van die skaapboere uit Tekóa, wat hy gesien het aangaande Israel in die dae van Ussía, koning van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel, twee jaar voor die aardbewing.
So sê die Here: Oor drie oortredinge van Gasa, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking in ballingskap weggevoer het om dit aan Edom uit te lewer. Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Gasa, en dit sal sy paleise verteer. En Ek sal die inwoners uit Asdod uitroei en die wat die septer dra, uit Áskelon; en Ek sal my hand teen Ekron uitstrek, en die oorblyfsel van die Filistyne sal omkom, sê die Here Here.”
AMOS 1:1, 6-8 AFR53
Sefánja en Sagaría het dieselfde woord as Amos van God ontvang.
“Want Gasa sal verlate wees en Áskelon tot verwoesting; Asdod sal op die helder middag verdryf word, en Ekron sal ontwortel word. Wee die inwoners van die kusstreek, die nasie van die Kretiërs! Die woord van die Here is teen julle, Kanaän, land van die Filistyne — Ek verdelg jou, sodat daar niemand meer woon nie.”
SEFÁNJA 2:4-5 AFR53
“GODSPRAAK. Die woord van die Here teen die land Hadrag, en op Damaskus bly dit rus — want die Here hou die oog op die mense en op al die stamme van Israel. Kyk, die Here sal hom in besit neem en sy skans in die see werp, en hy sal deur vuur verteer word. Áskelon sal dit sien en vrees; ook Gasa, wat sal sidder van angs; ook Ekron, omdat sy toeverlaat teleurgestel het; en uit Gasa verdwyn die koning, en Áskelon bly onbewoond; en die baster sal in Asdod woon — so sal Ek dan aan die trotsheid van die Filistyn 'n einde maak —”
SAGARÍA 9:1, 4-6 AFR53
Daar is 1 verwysing na Gasa in die Nuwe Testament. Gasa was toe onder beheer van die Romeine.
“EN 'n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is 'n eensame pad.”
HANDELINGE 8:26 AFR53
Gasa was altyd ‘n twispunt tussen die nasies, maar volgens die Bybel het God dit aan die Jode gegee. Ons kan almal bid vir Israel en sy inwoners. Ons bid vir beskerming vir die inwoners en insig en wysheid vir die leiers. Ons glo dat in hierdie moeilike tyd die mense tot die besef sal kom dat hulle Messias reeds gekom het. Ons bid vir chaos in die vyand se kamp en dat ook hulle vir Jesus sal ontmoet.