GEBOORTEPYNE #2022
- 3 minutes read - 608 wordsOns is in ‘n seisoen waar nuwe dinge moet gebeur (Jesaja 43:18,19). Satan probeer om elke nuwe ding van God te stop. Hy wil die fisiese babas en die geestelike babas stop voor hul gebore word. Een van die eerste opdragte wat God aan die mens gegee het was om vrugbaar te wees en kinders te hê. Ek glo die verse verwys na meer as om net kinders te hê. God wou ook hê die mens moet voorspoedig, gelukkig en gesond wees.
“En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”
GÉNESIS 1:28 AFR53
In die Bybel het Abraham en Sara probleme ondervind om ‘n baba te hê (Génesis 18,21). God se belofte was dat Abraham ‘n baie groot nageslag sou hê. Satan doen altyd dieselfde goed oor en oor so ‘n mens is glad nie verbaas om te lees dat Isak en Rebekka dan ook sukkel om ‘n baba te hê nie (Génesis 25). Later sukkel Ragel ook om ‘n baba te hê by Jakob (Génesis 30,35). Drie geslagte en elke keer was daar dieselfde probleem. In Rigters 13 lees ons dat Manóag se vrou sukkel om swanger te word. Later verskyn “die Engel van die Here” aan haar en bring vir haar die tyding dat sy sal geboorte skenk aan Simson. God het Simson gebruik om Israel te red na 40 jaar se onderdrukking deur die Filistyne. In Lukas 1 lees ons van Sagaría, die priester, en sy vrou Elisabet, wat kinderloos was. Hulle was reeds oud toe ‘n engel aan Sagaría verskyn het met die boodskap dat Elisabet geboorte sal skenk aan Johannes die doper. Die profeet Jesaja het reeds 700 jaar vroeër profeteer dat Johannes die koms van Jesus sou aankondig (Jesaja 40:3-4; Lukas 3:3-4). Dit was dus belangrik dat Johannes op die regte tyd gebore moes word. Vir Sagaría en Elisabet was Johannes laat, maar op God se kalender was Johannes op die perfekte tyd gebore.
Volgens Worldometer was daar hierdie jaar reeds 40,9 miljoen aborsies. (As jy dalk ‘n aborsie gehad het weet asseblief God het jou steeds baie lief en GEEN sonde is te groot vir Hom om te vergewe nie.) Satan is so desperaat dat hy die geboorte van babas wil stop. Satan weet dat elke baba wat gebore word die potensiaal het om die wêreld te verander. Jy het die potensiaal om die wêreld te verander. Daardie moeilike kind, man, vrou, suster, broer, baas of boemelaar langs die pad het die potensiaal om die wêreld te verander. Ons hoor en sien gedurig dat mense hier in Suid-Afrika werkloos is. God het vir elke persoon planne gemaak lank voor hulle gebore is (Psalms 139:16). Wanneer die vyand nie die fisiese baba aborteer nie probeer hy jou missie aborteer. Onthou wanneer jy met God stap kan die koms van ‘n “baba” vertraag word, maar dit sal nie gestop word nie. God het goeie planne vir ons. Ons mag dalk 2021 eindig en 2022 begin met geboortepyne, maar ek glo jou “baba” is oppad. Ons “babas” gaan verskillend lyk, maar onthou God is jou Skepper en Hy weet wat jy nodig het. Bly hoopvol vir ‘n beter 2022. Ek glo dit gaan waarlik ‘n “nuwe jaar” wees. Onthou dit neem ‘n baie lang 21 jaar om volwasse te word. Bly hoopvol, bly naby aan God en jy sal in 2022 jou “beloofde baba” sien. Jou nuwe familie, werk of posisie is nader as wat jy dink.