Geestelike Geduld
- 3 minutes read - 571 wordsBaie Christene wag op ‘n deurbraak. Jy was gehoorsaam wanneer die Heilige Gees vir jou instruksie gegee het, maar jy sien nog nie dat jou situasie drasties verander het nie. Ek het gisteraand ‘n droom gehad waar ‘n swanger vrou in die bestuurder sitplek van ‘n motor klim en haar swangerskap wou aanhelp. In die proses het sy die baba verloor. Ek glo God wou ons waarsku om nie ongeduldig te raak in ons “wag-seisoen” nie. Moenie ongeduldig raak en in die proses jou missie “aborteer” nie.
“ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd: 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te roei wat geplant is,
Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.”
PREDIKER 3:1-2, 11 AFR53
Ons lees dikwels in die Bybel van spesifieke seisoene en ek glo ons is in ‘n seisoen wanneer baie deurbraak gaan sien. Elke persoon se situasie is uniek en ons kan nie self dinge laat gebeur nie. Ons moet wag op God. Moenie laat ander druk op jou plaas om uit God se plan vir jou lewe te beweeg nie. Abraham en Sara het ongeduldig geraak en Ishmael is in die proses gebore. Hulle moes steeds wag vir Isak se geboorte om in God se plan in te beweeg.
Jesus kon op twaalfjarige ouderdom reeds meer verstaan oor God se dinge as Maria en Josef. Vir 18 jaar het Jesus geleer en gegroei voordat Hy begin het om ander te leer.
“En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.
En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.”
LUKAS 2:47, 52 AFR53
Die Fariseërs kon Jesus enige tyd gevangene neem en kruisig. God se plan was dat Jesus tydens die Pasga gekruisig word. Jesus moes gebore word in ‘n nederige stal in Bethlehem, as die perfekte lam. Jesus het net gedoen wat Hy Sy Vader sien doen het - Johannes 5:19. Jesus het in 33 jaar God se plan vir Sy lewe vervul.
Paulus het die wet en Skrif geken, maar hy moes steeds 3 jaar in afsondering gaan om vir Jesus te leer ken - Galásiërs 1:15-18. Daarna was Paulus gereed om die Woord te versprei. Paulus was standvastig en sterk in die geloof en karakter.
“Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
FILIPPENSE 4:11-13 AFR53
God het ook ‘n plan en proses vir jou. Wag op Hom en wees gehoorsaam.
“En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”
GALÁSIËRS 6:9 AFR53
“Maar ék vertrou op U, o Here! Ek sê: U is my God. My tye is in u hand;…
PSALMS 31:15-16 AFR53