GEESTELIKE PROBLEME HET GEESTELIKE OPLOSSINGS
- 4 minutes read - 692 wordsEk het vanoggend wakker geword met die woorde in my gedagtes - “geestelike probleme het geestelike oplossings.” Dis nog ‘n manier waarop God met my praat. Ek is glad nie van nature ‘n skrywer nie. Ongeveer 10 jaar gelede het ek in die oggende begin wakker word met spesifieke woorde en sinsnedes in my gedagtes. Dan sou ek na die Bybel gaan en meer probeer uitvind oor wat God sê en dit is hoe ek begin skryf het.
Die chaos waarin die wêreld is, is ‘n geestelike probleem. Ek wil dit baie duidelik maak dat God nooit siekte, onheil of verlies bring nie. Psalms 91 sê dat God jou wil beskerm soos ‘n hen haar kuikentjies onder haar vlerke beskerm. Wanneer ‘n kuikentjie moedswillig is en nie onder die hen se vlerk wil bly nie, sê ons nie dis die hen se skuld wanneer die kuikentjie seerkry nie. Baie keer plaas mense hulself in gevaar deur hul eie keuses. Soms maai ons wat ons self gesaai het. Dan kan ons nie God blameer nie. Ons is gemaak om te “sit in die skuilplek van die Allerhoogste” sodat ons kan “vernag in die skaduwee van die Almagtige.” Dan is daar natuurlik ook bloedlynvloeke wat jou lewe negatief kan beïnvloed. Soms speel satan net eenvoudig vuil en ignoreer God se reëls. Ek glo ons bevind ons in die laasgenoemde situasie. Die hele wêreld is op een of ander manier geraak deur hierdie chaos. Ek glo mense wat by God skuil is in ‘n mindere mate geraak, maar almal moes sekere vryhede prysgee. Hierdie is bo enige twyfel ‘n geestelike probleem.
‘n Geestelike probleem gaan nie weg wanneer jy ‘n pleister daarop plak nie. Dis nie ‘n klein snytjie nie wat môre weg is nie. Soms hou mense aan om te probeer om ‘n pleister oor die probleem te plak, maar teen die derde pleister besef hulle dit gaan nie die probleem wegneem nie. Ek glo absoluut in die mediese wetenskap, ek self het ‘n graad in wetenskap. Die probleem kom in wanneer ons bedrieg word deur die mense wat die medikasie vervaardig. Ongelukkig is daar mense in elke groep van ons samelewing wat deur satan gebruik word om ander te na te kom. Dis is ‘n geestelike stryd. Vir die mense gaan dit gewoonlik oor geld of beheer. Satan kan nie mense beheer sonder dat hulle toestemming daarvoor gee nie. Satan wil altyd chaos na hierdie aarde bring. Sy motief is altyd “steel, slag en verwoes”. God wil hê jy moet lewe in oorvloed ervaar (Johannes 10:10).
Om hierdie geestelike probleem aan te vat is dit nodig dat Christene saamstaan en ons volle wapenuitrusting aantrek (Efésiërs 6). Ons weet ons stryd is teen satan en nie teen mense nie. God het jou outoriteit gegee oor jou liggaam, jou lewe, maar ook oor die area waar jy woon. Jy het outoriteit om satan uit te jaag waar jy hom nie wil hê nie. Deel van jou outoriteit is om na jou liggaam en gesondheid om te sien. Die Bybel sê dat ons “kragtig moet word in die Here”. Jy moet Vader God so goed ken dat jy weet jy is tot alles in staat deur Hom wat jou krag gee (Fillipense 4:13). Jy moet leef uit ‘n hemelse posisie waar jy saam met Jesus regeer (Efésiërs 1 en 2). Jy moenie satan toelaat om siekte naby jou woonbuurt te bring nie (Psalms 91 en Jesaja 53). Jy kan jou mond gebruik om mense te seën en werk of huise in te roep vir die werkloses. As jy in ‘n posisie is om werk, kos of huisvesting te gee aan die werkloses kan jy ‘n verskil maak. As jy soos Petrus kan sê: “Silwer en goud het ek nie, maar dit wat ek het gee ek jou in die naam van Jesus Christus, staan op en loop”, doen dit. Jou gebed maak ‘n verskil. Jesus het vir ons gewys hoe om te leef in ‘n wêreld wat deur satan beheer is. Kom ons doen wat Jesus gedoen het terwyl Hy op aarde was. Jesus het die chaos van die wêreld verander. Jy kan dieselfde doen.