GELD EN TIENDES
- 8 minutes read - 1573 wordsGeld is sekere een van die mees kontroversiële onderwerpe om oor te skryf. Ek het maande gelede begin navorsing doen om uit te vind wat God se hart oor tiendes is. My navorsing begin altyd by my yslike groot Strong’s Concordance. Ek het elke woord opgesoek wat met tiendes, geld en handeldryf te doen het. Daarna het ek elke vers wat iets daarme te doen het gelees. Ek lees graag die afrikaanse ou vertaling 1933/53, maar gebruik ook engelse Bybels soos TPT, MEV en AMPC om seker te maak ek verstaan, wat elke vers beteken. Soos ek lees maak ek notas. As ek dan voel God wil hê ek moet dit deel sal ek dit opsom en dit vir die publiek pos.
Ons is geneig om te vra of ons ’n tiende moet gee en verwag ’n ja of nee as ’n antwoord. God wil verhouding bou met jou en dikwels behels dit meer as net ja of nee. Wanneer ek vrae oor iets het en nie antwoorde kry nie, lees ek alles in die Bybel daaroor. Dit gee God geleentheid om met my te praat oor die onderwerp. Nadat ek alles gelees het, het dit nog ’n paar weke geneem voordat ek oortuiging gehad het wat God vir my wou sê. Almal ken die verse wat sê ’n liefde vir geld is verkeerd. En dat ons nie God en Mammon kan dien nie. God moet ons eerste liefde wees. (Open 2:4; Jer 2:2) Enige iets wat belangriker as God word, is verkeerd. Of dit geld, familie en vriende, jou roeping, kos, sport of tv is, dit moet minder belangrik as jou verhouding met Jesus wees. Meeste van ons is nie lief vir geld nie, maar as ons ’n tekort daarna het pla dit ons. Ek glo ook meeste Christene wil doen wat reg is. Dis net dat ons nie altyd weet wat reg is nie. Dit irriteer ons almal wanneer die skool, die kerk, die karwag en al die ander instansies gedurig geld vra, selfs al is ons normaalweg vrygewig.
Die Bybel maak dit baie duidelik dat ’n liefde vir geld en geldgierigheid (1 Timótheüs 6) verkeerd is. As ’n ouer wil ek altyd my kinders seën en hulle van swaarkry beskerm. God is ’n baie beter ouer as ek en daarom weet ek dat Hy ons altyd wil seën. Psalms 23 sê dat die Here my Herder is en dat ek niks sal kortkom nie. Ek sal dus alles hê wat ek nodig het. Die Nuwe Testament het nie een enkele vers oor tiendes nie. Die bekendste vers oor tiendes vind ons in die laaste boek van die Ou Testament. Die vers belowe dat God na ons sal omsien wanneer ons ’n volle tiende aan Hom bring.
“Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.”
MALEÁGI 3:10 AFR53
Sommige mense redeneer dat tiendes deel van die wet is en daarom nie meer geldig is nie. Waarom het Abraham (Gen 14:18-20, Hebr 7) en Jakob (Gen 28:20-22) dan tiendes betaal lank voor die wet ingestel is? Jakob het ’n verbond met God gesluit waar hy ooreenkom het om God te volg en ’n tiende te gee en God sal vir hom sorg. Net soos die vers in Maleági is daar ’n voorwaarde aan die seëning gekoppel. As ons die opdrag uitvoer, ontvang ons die seëning. Dieselfde geld vir die seëninge in Deuteronómium 28. Ek hou daarvan om die beloftes in die Bybel te neem en God daaraan te herinner. Ek sal Deuteronómium 28 aanhaal en verklaar dat ek altyd geseënd is, dat my kinders geseënd is, dat alles wat ek aanpak geseënd is en verklaar myself altyd skuldvry. Ek verklaar verder dat ek die kop is en nooit die stert nie, ek is bo en nooit onder nie en wanneer satan uit een rigting na my kom sal hy verslaan word en in sewe rigtings vlug. As ek dus redeneer dat die verse oor die tiendes verval het, beteken dit al my Ou Testamentiese seëninge het ook verval. Ek kan nie self kies watter verse geldig is en watter nie.
Kom ons kyk wat sê die Nuwe Testament en Jesus oor geld. In Matthéüs 6 leer Jesus Sy volgelinge meer oor geld en liefdadigheid.
• Moenie oorvertel wanneer jy goed doen nie, want dan het jy reeds jou beloning ontvang op aarde. Hou dit privaat.
• Maak vir jou skatte in die Hemel bymekaar, want jy kan nie aardse besittings saamneem Hemel toe nie.
• “…waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
• Heidinne en kleingelowiges bekommer hulle oor wat hul sal eet, drink
of aantrek.
• Soek God se koninkryk en jy sal alles ontvang wat jy nodig het.
Op ’n dag het ’n ryk jongman na Jesus gekom en gevra wat hy kan doen om die ewige lewe te verkry. Jesus het geantwoord dat die jongman die gebooie moet gehoorsaam, maar ook al sy besittings moet verkoop en dit aan die armes moet uitdeel. Jesus het aan die dissipels gesê dat dit moeilik is vir ryk mense om Hemel toe te gaan. Ek glo God wil almal finansieël seën. Die vraag is kan God jou vertrou met die finansies om Sy werk te doen? Gaan jy ’n liefde vir geld ontwikkel of gaan jy die geld gebruik om jou roeping uit te leef? Baie jare gelede toe ek en my man getroud is, het ons 1 motor gehad, Ek moes hom aflaai oppad werk toe en weer oplaai na werk. Een middag terwyl ek vir my man wag het iemand by my geld kom bedel. Ek het gegee en na ’n rukkie was die persoon terug om meer te vra, want dit was nie genoeg vir sy sigarette nie. Natuurlik wou ek nie meer gee nie. My punt is maak seker God kan jou vertrou met geld.
Jesus het op ’n keer in die tempel gesien hoe ’n arm weduwee al haar geld in die skatkis gooi (Markus 12:41-44). Hy het aan die dissipels verduidelik dat dit meer beteken as die groot bedrae geld wat ryk mense gee. Ek glo God kyk na ons harte wanneer ons gee. Miskien wil die Nuwe Testament vir ons nie beperk tot slegs ’n tiende nie. Dis ’n duidelike opdrag van God om te gee, veral aan die weduwees en weeskinders (Jakobus 1:27, Psalms 82:3). As ons dit nie gehoorsaam nie, doen ons sonde. Kom ons skep ’n kultuur waar ons die Woord ken en daarvolgens lewe. Kom ons gee sodat leiers nie hoef te vra nie.
Jy gaan nie winkel, dokter, fliek toe of na ’n rugbywedstryd toe sonder om te betaal nie. Dis alle Christene se verantwoordelikheid om na God se leiers en God se minder bevoorregte kinders om te sien. Die Fariseërs het vir Jesus gevra of dit reg is om belasting aan die keiser te betaal (Matt 22:15-22). Jesus het vir hulle verduidelik dat die keiser se gesig op die muntstuk is en daarom is dit reg om aan die keiser belasting te betaal. Die TPT Bybel verduidelik verder dat jy gemaak is na die beeld van God en daarom is dit reg dat jy geld vir God se werk gee. As jy dus nie deel van ’n kerk is nie kan jy steeds help met donasies in jou gemeenskap of aan wonderlike instansies soos Geopende Deure. Geopende Deure help vervolgde Christene wêreldwyd. Vra vir God waar jy kan help.
“Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee — terwyl jy dit het.”
SPREUKE 3:27-28 AFR53 “Want die Skrif sê: Jy mag ’n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.”
I TIMÓTHEÜS 5:18 AFR53
In Lukas 9 vers 3 het Jesus die dissipels uitgestuur sonder geld, sonder kos en sonder ekstra klere. Hul was dus afhanklik van die donasies of bydrae van ander mense (Markus 6:8).
“Bly dan in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle het, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis gaan nie.”
LUKAS 10:7 AFR53
In Johannes 10:10 belowe Jesus vir ons ’n oorvloedige lewe. Ek is oortuig daarvan dat dit ’n goeie geestelike en fisiese lewe insluit. 2 Korinthiërs 8 en 9 maak dit duidelik dat ons uit ons oorvloed aan ander moet gee. Dit gaan ook verder en sê dat as ons net ’n klein bietjie saai kan ons nie ’n groot oes verwag nie. Ons moenie gee omdat ons verplig voel om te gee nie, ons moet met ’n goeie gesindheid gee. Deur te gee help ons ander, maar dis ook ’n manier om dankie vir God te sê vir alles wat ons van Hom ontvang.
“Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”
HANDELINGE 20:35 AFR53“En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”
FILIPPENSE 4:19 AFR53