GELDOORDRAG
- 5 minutes read - 924 wordsEk hoor al vir jare lank mense praat van ’n geldoordrag wat gaan plaasvind. Hulle beweer dat God geld van ongeredde mense sal wegneem en aan God se kinders sal gee. Wanneer ek iets hoor gaan soek ek in die Woord wat God daaroor te sê het. Vir baie lank het ek geglo wat mense vir my sê. Op ’n dag ontdek ek toe mense is dikwels verkeerd en ek moet self in God se Woord gaan soek wat die waarheid is. Ek wil jou aanmoedig om dieselfde te doen. Dit beste van alles is dat jy verhouding bou met God, terwyl jy antwoorde op jou vrae kry.
WAT SÊ DIE BYBEL OOR GELDOORDRAG?
Toe die Israeliete Egipte verlaat het hulle goud, silwer en klere by die Egiptenaars gekry - Ex 12:35-36. Abram het reeds die profesie van God ontvang, dat sy nageslag vir 400 jaar onderdruk sal word in ’n vreemde land, maar daarna terug sal trek na hul land, en baie besittings sal saamneem - Gen 15:13-14.
Tirus se wins is gebruik vir God se kinders. In Eségiël 28 lees ons dat satan die vors/prins van Tirus is en dus is satan die die hoof van oneerlike handelsbedrywe.
“Maar haar handelswins en haar hoereloon sal aan die Here heilig wees; dit sal nie opgehoop of weggesit word nie; maar haar wins sal wees vir die wat voor die aangesig van die Here woon, om te eet tot versadiging en vir pragtige klere.” JESAJA 23:18 AFR53
“Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die Here van die leërskare. Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die Here van die leërskare. Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die Here van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die Here van die leërskare.” HAGGAI 2:7-9 AFR53
God sê Hy sal vrede en die “rykdom van nasies” aan Sy volgelinge gee- Jes 66:12.
Die rykdom van die nasies sal versamel word - Sagaría 14:14.
“STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang. Slaan jou oë rondom op en kyk — hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra. Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan.” JESAJA 60:1-5 AFR53
“Maar júlle sal priesters van die Here genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet en op hulle heerlikheid julle beroem. In plaas van julle skande ontvang julle ’n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land ’n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet.” JESAJA 61:6-7 AFR53
In die verlede was daar defnitief ’n oordrag van rykdom van die ongeregtiges na die geregtiges. Ek glo ’n oordrag van rykdom gaan gepaard met God se heerlikheid. God se heerlikheid was duidelik sigbaar toe die 10 plae nie die Israeliete aangeraak het nie. Daarna kon die Israeliete vrykom uit slawerny, maar ook besittings ontvang van hul slawedrywers. Israel het deur ’n baie moeilike tyd gegaan voordat hulle deurbraak gekom het. Die hele wêreld gaan die laaste 18 maande deur ’n baie moeilike tyd. Party mense leef in vrees, ander het hul werk, hul huis, familie of vriende verloor. Daar is verdeeldheid onder mense oor die beste medikasie. Intussen wil ons “slawedrywers” al ons besluite vir ons neem.
“Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! — maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin. Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn. Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie.”
HÁBAKUK 1:2-5 AFR53 “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek.”
HÁBAKUK 2:14 AFR53
Ek voel opgewonde dat God vir ons deurbraak sal bring. Ek glo God sien al die onreg raak en Hy sien elke opregte hart raak. Dawid herinner ons in Psalms 37 dat God altyd na die regverdige sal omsien en God self sal die goddelose uitroei. As jy reg is met God sal Hy jou help. Ek glo ons gaan God se heerlikheid sien, soos nooit tevore nie. Ek glo ons gaan die “groter dinge” sien, waarvan Jesus gepraat het. Siekes gaan genees word, mense gaan tot bekering kom en verslaafdes gaan vry word. Ek glo ook dat God vir opregte mense van finansies sal voorsien om skuldvry te wees, maar ook om Sy koninkryk te bevorder.