GELYKE PAD
- 5 minutes read - 873 wordsDie Hebreërs het gedink Jesus het gekom om hul koning op aarde te wees. Hulle het gedink Hy gaan hulle verlos van die Romeinse heerskappy. Dit moes ’n skok gewees het toe Hy sterf, opstaan en opvaar na Sy Vader, nadat hulle vir jare lank gewag het vir hul koning. Jesus het ’n ander tipe verlossing gebring. Hy het die ewige lewe gebring. Ervaar jy soms moeilikheid ten spyte van die feit dat jy seker is van jou verlossing? Die Bybel sê ons moenie verbaas wees as dit soms moeilik gaan nie. Onthou God is steeds met jou.
“MAAR nou, so sê die Here, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”
JESAJA 43:1-2 AFR53“Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;”
I PETRUS 1:6-7 AFR53“OMDAT Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. Maar wanneer iemand as ’n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig. So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.”
I PETRUS 4:1-2, 14, 16, 19 AFR53“EN mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”
I PETRUS 5:10 AFR53
Ek vind dat die geheim om deur moeilike tye te kom is om so gou moontlik by Jesus uit te kom. Gaan vind die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Moenie kwaad of opstandig word nie. Kom ons wees eerlik ons het almal baie redes om ongelukkig te wees in hierdie wêreld. Petrus en die ander dissipels het nie op ’n hopie gaan sit en huil nadat Jesus opgevaar het nie. Hulle het Sy opdrag uitgevoer en gaan wag op die Heilige Gees. Die dissipels kon vir die res van hul lewens die teleurstelling ervaar dat hul steeds onder Romeinse heerskappy is. Of hul kon Heilige Gees vervuld wees en die wêreld ’n beter plek maak.
“Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie. Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.”
JOHANNES 14:25-28 AFR53
Hoe langer jy skop teen die prikkels, hoe langer sal jou moeilike tydperk wees. Gee alles oor (surrender) aan God en vind Sy vrede in jou moeilike situasie. Selfs Jesus was in so ’n moeilike situasie. Jesus het ’n plek gevind waar hy met die Vader kon praat. Hy het Sy wil minder belangrik geag as God se wil. God het nie die moeilike situasie weggeneem nie, maar Hy het ’n engel gestuur om Jesus te versterk. Jesus het meer gebid toe Sy situasie slegter raak.
“En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En ’n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.”
LUKAS 22:41-44 AFR53
Jou pad is nie altyd gelyk nie, maar jy het altyd toegang tot God om versterking te ontvang.
“Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
JOHANNES 16:33 AFR53