GELYKENIS VAN DIE TALENTE
- 2 minutes read - 245 words
Lukas 19:11-28, Matthéüs 25:14-30
Jesus se volgelinge het gedink dat Jesus die Romeinse heerskappy gaan oorwin en dat Hy letterlik hulle koning sou word. Dikwels het ons ’n vleeslike verwagting vir iets wat ’n geestelike oplossing het. Ons voer ’n geestelike stryd teen satan (Efésiërs 6). Daarom het Jesus vir Sy volgelinge hierdie gelykenis vertel. ’n Belangrike man moes na ’n ver land reis en sou eers terugkeer nadat hy koning geword het. Die man het dus sy werkers geld/talente gegee om mee handel te dryf. Met sy terugkoms het hy gevind dat sommige baie wins gemaak het, sommige het geen wins getoon nie en ander nie wou hê dat hy koning moes word nie.
Jesus het aan ons almal talente of geestelike geskenke gegee om mee te werk terwyl Hy weg is. Hy gaan terugkeer as Koning en dan sal ons rekeningskap moet gee oor wat ons met ons talente gedoen het. Die wat ons talente gebruik het tot eer van God sal meer ontvang.. Ons sal ’n wonderlike ewige lewe in die Hemel met God deurbring. Die wat hul talente begrawe sal selfs dit wat hul het verloor Die wat nie Jesus as Koning wil aanvaar nie sal vir ewig geteister word in die hel.
Dit is dus belangrik dat ons werk maak om ons talente tot eer van God te gebruik (Rom 12:4-8). As jy nog nie Jesus Koning oor jou lewe gemaak het nie, daar is nog tyd (Open 3 :20).