Genesing
- One minute read - 211 wordsLukas 5:17-26
Jesus was besig om die mense te leer toe daar Fariseërs en skrifgeleerdes opdaag. ‘n Groep mans het ‘n verlamde man gebring, maar kon nie deur die skare tot by Jesus kom nie. Hulle klim toe op die dak en laat sak die man tot by Jesus. Die skrifgeleerdes en Fariseërs was baie ontsteld toe Jesus vir die man sê dat sy sondes vergewe is. Jesus het die mans se geloof gesien en die verlamde is genees. Baie mense het daardie dag God verheerlik.
Die godsdienstige gees van die geleerdes sowel as die groot skare was ‘n obstruksie vir die verlamde man se genesing. Sy vriende se geloof in Jesus was sterker as enige weerstand van die vyand. Niks kon hulle keer om die verlamde man by Jesus te kry nie. Jesus genees vandag steeds. Hy wil jou gebruik om ander by Jesus te kry en te genees.
“EN op een van dié dae was Hy besig om te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees.”
LUKAS 5:17 AFR53
Waar die Heilige Gees teenwoordig is, is daar krag om te genees.