GERUGTE DAT JESUS IN SEPTEMBER KOM
Janine Forsyth
- 7 minutes read - 1487 wordsDaar is mense op sosiale media wat voorspel dat Jesus hierdie jaar met die Fees van Trompette (Rosh Hashanah/ Joodse Nuwe Jaar) -23/24 September - die Christene sal kom haal. Ander voorspel weer volgende jaar in September.
Kom ons kyk wat sê die Bybel. Openbaringe 8 leer vir ons dat daar 7 basuine deur 7 engele geblaas sal word. Die blaas van elke basuin gaan gepaard met swaarkry en verwoesting. Die sewende basuin kondig die einde aan (ek dink hierdie basuin word na die 7 jaar tribulasie geblaas).
Ek glo Jesus sal kom met ‘n trompetgeluid om die Fees van Trompette te vervul. Watter jaar dit sal gebeur weet ek nie.
Die Bybel maak dit duidelik dat Christene in die lig lewe en dat ons altyd reg moet wees vir Jesus se terugkeer. Aardbewegings, die bloedmaan, oorloë en gerugte van oorloë is duidelik sigbaar. Jesus het gesê dat ons na die vyeboom moet kyk. Israel word beskou as die vyeboom. Die tekens is daar - ‘n rooi koei (red heifer) is gedurende Julie as slagoffer gebring. Dit word glo beskou as ‘n proeflopie. Jy stop voor jy die dier slag as dit ‘n proeflopie is. Daar is nou gerugte dat nie een van die rooi koeie geskik is vir die ritueel nie. Ons weet jy mag nie ‘n dier met gebrek gebruik vir reiniging nie. Die koei is in Samaria en nie op die Olyfberg geslag nie. Al die tempel instrumente, klere, priesters ens. is gereed vir die derde tempel wat die Jode wil oprig. Israel is sedert 1948 gedurig in ‘n oorlog betrokke.
Ek glo dat mense drome het waarin Jesus kom, maar ek glo nie ons kan ‘n jaar profeteer wanneer Hy sal terugkeer nie. Elke generasie moet Jesus se terugkeer as onmiddellik sien sodat hulle alles moontlik kan doen om die Woord te versprei. Die hele wêreld moet geleentheid hê om Jesus te ontmoet voordat Hy kom. ‘n Mens hoor stories van Jesus wat in drome aan Moslems verskyn. Jesus het gesê dat Hy gou sal terugkeer. Is jy gereed?
“En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”
MATTHÉÜS 24:30-31 AFR53
“MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”
MATTHÉÜS 24:36-39 AFR53
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.”
I THESSALONICENSE 4:16 AFR53
“Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”
I KORINTHIËRS 15:51-52 AFR53
“Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.”
MATTHÉÜS 24:42-44 AFR53
“MAAR oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe. Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.”
I THESSALONICENSE 5:1-11 AFR53
“En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”
MATTHÉÜS 24:4-14 AFR53
“En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.”
MATTHÉÜS 24:32-33 AFR53
“Dit is die wetsinsetting wat die Here beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou 'n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand. En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi. Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees. Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. En 'n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op 'n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel bewaar word vir die reinigingswater: dit is 'n sondoffer. En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, 'n ewige insetting wees.”
NÚMERI 19:2-10 AFR53
“Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”
OPENBARING 22:7, 12 AFR53