GIDEON
- 3 minutes read - 445 wordsRigters 6-8
Die verhaal van Gideon wat in die parskuip besig was om koring te maal en dan deur “‘n Engel van die Here” (Jesus) “‘n dapper held” genoem word, is baie bekend. Dan plaas Gideon die wolvlies twee keer buite om seker te maak hy het regtig gehoor dat hy die Israeliete moet verlos van die vyand. Hierdie gedeelte is belangrik vir elke Christen wat sy lewensdoel wil uitleef. Jy moet weet dat God dink jy is “‘n dapper held” en Hy het jou geskep om ‘n spesifieke taak hier op Aarde te verrig. Nadat God jou geroep het sal die vyand jou dikwels laat twyfel en jy sal begin wonder of jy reg gehoor het. Daar sal ook altyd verskonings wees waarom jy nie God se wil kan doen nie. Gideon het sy nederige familie as verskoning gebruik. Ek het geleer om net op God te vertrou en in te spring en te doen wat ek voel God van my vra. Ons moet leer om doof te word vir die stem van die vyand sodat ons die Vader se stem beter kan hoor.
Gideon het eers die altaar van Baäl vernietig. Daarna het Gideon 32 000 soldate bymekaar gekry om die Midianiete aan te val. Die Here het gesê dat dit te veel soldate was, want dan sou hulle dink dat hulle in hul eie krag die vyand oorwin het. Gideon en 300 soldate het met ramshorings, kruike en fakkels die laer van die Midianiete omring. Soos Gideon en die manne op die ramshorings blaas het die vyand mekaar begin aanval. Ons lees dat 120 000 manne verslaan is. Dit is wat gebeur wanneer ‘n mens gehoorsaam is en God vir jou veg. Geen vyand is te groot of sterk vir ons God nie. Die Israeliete wou hierna hê dat Gideon oor hulle moes heers, maar Gideon het gesê dat God oor hulle moes heers. Ons sien hoe Gideon verander van iemand wat wegkruip in die parskuip tot ‘n braaf man wat die vyand verslaan.
Ten spyte daarvan dat Gideon baie vroue gehad het, het God Gideon geseën en hy het 70 seuns gehad het. Ongelukkig het Gideon goue ringe en pers kledingstukke by die Ismaeliete afgeneem, asook maantjies wat om hulle kamele se nekke was. Hy het dit gebruik om ‘n skouerkleed (ephod) te maak. ‘n Skouerkleed was gewoonlik gedra deur die hoërpriester (Exodus 28:6-35). Dit het daartoe gelei dat Gideon en die Israeliete weer begin het om afgode te dien. Rykdom en sukses is seëninge van God, maar ons moet nederig bly en altyd onthou dat alle goeie dinge van God kom. Moenie trots word wanneer jy sukses behaal nie.