GLO NET
- 5 minutes read - 1039 words“DIE geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang. Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.”
HEBREËRS 11:1-3 AFR53
In Johannes 20:19-31 lees ons hoe ongelowige Thomas eers Jesus se wonde wou aanraak voor hy sou glo dat Jesus lewe.
“Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.”
JOHANNES 20:29 AFR53
“Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie.”
JOHANNES 6:36 AFR53
Jesus het die dissipels ‘n hele paar keer kleingelowiges genoem (Matthéüs 6:30, 8:26, 16:8, Lukas 12:28). Hierdie mense het met hulle eie oë gesien dat Jesus wonderwerke doen en steeds getwyfel. Hebreërs 11 gee nie net vir ons die definisie van geloof nie, maar ook ‘n lang lys van geloofshelde. Hierdie mense het in die moeilikste omstandighede steeds geglo.
Waarom glo ons nie?
Dikwels word om omring deur mense wat ons konstant teleurstel en daarom is ons onder die wanindruk dat God dieselfde gaan doen.
‘n Identiteit probleem gee aanleiding dat ons nie dink ons is goed genoeg om deur God gebruik te word nie. Jy kan God se beste mis terwyl jy dink jy verdien dit nie. Of jy kan net aanvaar dat God jou so liefhet dat Hy vir jou die beste wil gee. Jy is ‘n koningskind met die voorregte wat daarmee saamgaan. Ja, ons verdien dit nie, maar dit gaan alles oor wie jou Pa is. As jy ‘n ouer is verstaan jy dit beter. Ek sal alles opoffer vir my 2 kinders. God se liefde is soveel meer as ‘n goeie ouer se liefde. God het Sy enigste Seun gegee om vir jou te sterf. Jesus het jou so lief gehad dat Hy bereid was om die wonderlike perfekte Hemel te verlaat en hier op Aarde verwerp en mishandel te word. Hy het selfs vir jou gesterf.
Ek dink baie van ons is gekondisioneer om te glo dat wonderwerke in die Bybel gebeur het, maar nie meer vandag gebeur nie. Of dit gebeur net met ander mense. Die Rooi See het oopgegaan en die Israeliete kon deurstap op droë grond. Lasarus, Jaïrus se dogter en Jesus is opgewek uit die dood. Mense is van verskillende siektes genees. Jerigo se mure het omgeval. Die 10 plae het Egipte getref, terwyl die Israeliete veilig was. Die Egiptenare het silwer, goud en klere aan die Israeliete oorhandig. Egipte het nie net hul slawe verloor nie, maar ook van hul besittings (Exodus 12:35-36). Psalms 91 en Deuteronómium 28 beskryf die guns wat jy verkry deur by God te skuil. Engele is tot jou beskikking. Jesus is in die woestyn en later in Getsémané versterk deur engele. As Jesus engele nodig gehad het, het ons hulle baie meer nodig. Jesus het bo-natuurlik aan die dissipels verskyn terwyl die deure gesluit was. Henog, Elía en Jesus het met hul liggame opgegaan Hemel toe. Jesus en Petrus het op die water geloop. Tyd het terugbeweeg vir Koning Hiskía en stilgestaan vir Josua. Filippus is deur God se Gees weggeneem van die hofdienaar op die wa na Asdod (Handelinge 8:39-40). Johannes, Jesaja, Daniël, Paulus en Eségiël het God en die derde Hemel gesien. ‘n Hand het verskyn en teen ‘n muur geskryf. Die Bybel is propvol bo-natuurlike dinge.
“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.”
HEBREËRS 11:6 AFR53
Wonderwerke en die werking van die Heilige Gees en engele het nie gestop nie. Jesus het gesê ons moet groter dinge doen. Terwyl sommige in ongeloof leef word daar mense genees en selfs uit die dood opgewek. Duisende mense het naby-dood ervarings waar hul duidelik sien die hel en Hemel bestaan wel. Mense besoek ook die Hemel in die geestesdimensie. Daar is ‘n geestesdimensie om jou met engele en demone. Die Bybel sê ons moet ‘n kinderlike geloof hê. Kinders glo net wanneer ons vir hul iets vertel. Wanneer dit by God kom moet ons die intellek afskakel. Jou brein sê ‘n persoon is sterwend, of reeds dood of jy het nie die nodige finansies of daar is nie meer hoop nie. Die Woord sê bly hoop. Glo net en jy sal die uitkoms raaksien. Wat jy dink of vrees gebeur gewoonlik (Spreuke 23:7a). Wees baie versigtig wat jy dink. Moenie ongeloof in jou lewe toelaat nie. Dit het die Israeliete 11 dae geneem om tot by die Israel te trek (Deuteronómium 1:2). As hulle net geglo het wat Josua en Kaleb gesê sou hulle almal die land ingetrek het. Veertig jaar later het slegs Josua en Kaleb die belofte verkry. Hou jou ongeloof jou terug van God se planne vir jou?
“Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.”
JOHANNES 6:28-29 AFR53
Die Israeliete moes glo en dit opvolg met aksie. Noag moes glo dat daar ‘n vloed kom, maar kon nie daar stop nie. Die wete dat daar ‘n vloed kom was nie genoeg om Noag, sy familie en die diere te red nie. Noag se geloof moes opgevolg deur ‘n aksie. Hy moes die ark bou.
“Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is 'n vriend van God genoem. Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?”
JAKOBUS 2:19-20, 23-24 AFR53
Dis tyd om te glo soos ‘n kind en dan besig te word met dit wat jy glo.