GOD DOEN ‘N NUWE DING
- 3 minutes read - 586 words“Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.”
JESAJA 43:18-19 AFR53
God doen dikwels dinge op ’n hele nuwe manier. Slegs profetiese mense wat in pas met God bly, sien dit raak en maak die nuwe manier van doen deel van hul lewens. Toe Johannes die doper oor vergifnis van sonde en die doop, begin praat, was dit iets splinternuut. Mense kon kies of hul na hierdie vreemde man uit die woestyn, luister of nie. Die geboorte van ’n Koning in ’n stal, ’n maagd wat deur die Heilige Gees swanger word, ’n donkie wat praat, ’n pad deur die Rooi See en daar is soveel meer kere wat God dinge op ’n nuwe manier gedoen het. Hy wil ook nou ’n nuwe ding doen.
Die probleem wat mense met ’n nuwe ding het, is dat hulle moet verander.
Mense raak so gemaklik met ’n ou manier van doen dat hulle nie wil verander nie. Baie Jode in die Nuwe Testament wou nie Jesus aanvaar as hul Messias nie. Vandag is daar mense vasgevang in dooie godsdiens. Jesus het gekom sodat Christene ’n lewendige verhouding met Jesus kan hê. Ons moet vol krag en mag regeer oor hierdie aarde. Jesus en die apostels in die Nuwe Testament wys vir ons hoe om te leef.
“En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou. En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die oue is beter.”
LUKAS 5:37-39 AFR53
Ons gaan ’n nuwe era in waar ons oë op Jesus moet wees en nie op leiers nie. Gewone mense soos ek en jy moet die Woord verkondig en bid vir die genesing van siekes. Die era waar mense Sondae passief kerkbanke vol sit, jaar in en jaar uit, is verby. Dis tyd om geestelik te groei. Ons kan nie vir altyd baba Christene bly nie. As God jou geroep het om in die besigheidswêreld te wees kan dit jou sendingveld wees. As jy finansieel floreer wil God hê jy moet ander help om die Woord te versprei of mense help om hulle eie besighede te begin. As jy goed is met kosmaak of hareknip kyk waar daar nood is en gaan help daar. Jou roeping gaan nooit net oor jouself nie. God het jou geroep om ’n verskil aan hierdie wêreld te maak. Jesus het gesê Hy doen net wat Hy sien Sy Vader doen (Johannes 5:19). Jesus kon sien waarmee Sy Vader besig is, want Hy het tyd by Hom spandeer.
“Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.”
LUKAS 5:16 AFR53
Ek en jy moet ’n lewendige verhouding met God hê sodat ons ook kan doen waarmee die Vader besig is. Moenie vasgevang bly in jou gemaksone nie. Vind die nuwe ding waarmee God jou wil besighou. God het jou geskape met spesifieke unieke karakter eienskappe om jou roeping te verrig. Wanneer jy na God kyk kan jy jouself sien soos God jou sien. Jy sal dalk nuwe talente ontdek. Moenie kyk na die mense om jou nie, kyk na God en jy sal jou “nuwe ding” vind.