God het wonderlike planne vir jou
- 5 minutes read - 1040 wordsWanneer dinge moeilik gaan is daar net een ding om aan vas te klou en dit is dat God wonderlike planne vir jou het. Omdat jy nog nie daardie planne gesien het nie beteken dit nie, dat hulle nie bestaan nie. Dawid het deur moeilike tye gegaan. Hy was reeds gekies as koning, maar moes steeds vlug vir sy lewe. Net soos ek en jy het hy soms a.g.v. sy sonde in die moeilikheid beland. Kyk wat skryf Dawid in Psalms 139:
“VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid. Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, Here, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig. Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.”
PSALMS 139:1-18 AFR53
Nie net is al God se wonderlike planne vir jou neergeskryf in die Hemel, voor jy gemaak is nie, maar God dink aan ook aan jou.
“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.”
JEREMIA 29:11 AFR53
God het Jesus gestuur om jou te red.
Daarna het Hy die Heilige Gees gestuur om binne jou te kom woon.
Hy het ook menigte engele wat regstaan om jou te help om jou werk hier op aarde te verrig.
God het jou so lief dat Hy jou najaag.
“En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God.”
DEUTERONÓMIUM 28:2 AFR53
Soms gebeur vreemde goed wanneer God ’n boodskap aan jou wil oordra. ’n Donkie het met Bíleam gepraat (Númeri 22 ). Die horlosie het 10 grade teruggedraai as teken dat God Koning Hískia se gebed verhoor het en hom genees het (Jesaja 38 ). Jona het in die maag van ’n vis beland (Jona 2 ). In die tyd van Daniël het ’n hand verskyn en geskryf op die muur, in die paleis van Koning Bélsasar (Daniël 5).
Ek het al ’n paar sukkel vreemde insidente gehad. Vroeër hierdie jaar het ek gevoel God wou hê ek moet die verhaal van Debóra (Rigters 4-5 ) lees. Dis ’n wonderlike verhaal waar Debóra, ’n profetes, onder ’n palmboom op ’n berg sit, en aan die mense “regspraak” lewer. Nadat die Israeliete die beloofde land gekry het, het Josua gesterf. Ongelukkig het Israel besluit om ander gode soos Baäl en Astártes te dien. God het toe rigters aangestel om die mense te red uit die hande van hul vyande (Rigters 2). Debóra was een van hierdie rigters. Debóra het Barak, die hoof van die weermag, opdrag gegee om reg te maak om Israel se vyande aan te val. God het verwarring gebring in die vyand se kamp en Barak en sy manne kon die vyand verslaan. Sísera, die leier van die vyand se weermag, het weggehardloop en Jael het hom doodgemaak met ’n tentpen. Barak het nie die eer ontvang vir Sísera se dood nie, want hy wou nie sonder Debóra na die oorlogsone trek nie. Jael, ’n vrou het toe die eer daarvoor gekry.
Ek het die verhaal ’n paar keer gelees en selfs die betekenis van Debóra se naam opgesoek. Debóra beteken heuningby. Dit het nie veel vir my beteken nie. Ek was seker God wou my laat raaksien dat vroue ’n groot rol speel in Sy koninkryk. Debóra was ’n ma en vrou so ek kan ook maklik met haar identifiseer. ’n Paar dae later, iewers tussen 4h en 5h30 die oggend, het ’n by ons slaapkamer ingekom en my op my hand gesteek en net verdwyn. Daarna het bye my herhaalde kere gevolg. Hulle sal my selfs in die huis in volg en op die strand volg. Eh het gehoor dat meer vroue insidente met bye gehad het. God sal met ons praat totdat ons hoor wat Hy sê. Dis interessant dat alle werkerbye, die bye wat meestal buite die korf is, vroulik is. Die bye werk almal saam om hul rol te vervul in ’n korf. Ek glo God wou vir my wys dat vroue (soos Debóra) soms oor mans die leiding kan neem. Selfs al is ons nie gemaak as die leier van ons huisgesin nie. Ons het elkeen ’n rol om te vertolk en ons moet versigtig wees om so teen wette vas te kyk dat ons mis wat God sê. Mans en vroue moet saamwerk en dit doen wat God hul gee om te doen. Moenie mis wat God sê omdat Hy op ’n vreemde manier ’n boodskap oordra nie.