God Is Goed
- 5 minutes read - 1053 words“Want die Here is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.”
PSALMS 100:5 AFR53
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
JOHANNES 10:10 AFR53
“Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”
JAKOBUS 1:13, 17 AFR53
“EN dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”
I JOHANNES 1:5 AFR53
“wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ’n arend.”
PSALMS 103:5 AFR53
In bogenoemde verse maak die Bybel dit duidelik dat God goed is en dat satan die een is wat jou finansies, besittings, werk, gesondheid of selfs familie of vriende steel. In Johannes 9 vra die dissipels vir Jesus waarom ‘n man blind gebore is? Hulle wou weet of sy eie sonde of sy ouers se sonde (bloedlynsonde) die oorsaak was vir sy blindheid. Ons kan dus aflei dat sonde siekte kan veroorsaak. Sonde gee vir die duiwel vatplek in jou lewe.
“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”
I PETRUS 5:8 AFR53
“Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
JAKOBUS 4:7 AFR53
In die spesiefieke geval het Jesus egter gesê dat God die man se siekte gebruik om mense meer oor God te leer. In Johannes 11 sien ons dit weer. Toe Jesus hoor dat Lasarus siek was het Hy gesê dat Lasarus sal lewe en Hy daardeur verheerlik sal word. God het nie die siekte veroorsaak nie, maar Hy kan dit gesond maak as ons daarvoor bid.
In Markus 3:20-30 en Lukas 11:14-23 beskuldig die Fariseërs Jesus daarvan dat Hy deur die duiwel gelei word omdat Jesus duiwels kon uitdryf. Jesus verduidelik dat die een wat die duiwel/siekte/probleem veroorsaak tog nie die probleem sal wil oplos nie. Jesus het dus satan se demone uitgedryf en siektes wat satan veroorsaak het, genees. Dit het my ‘n tydjie geneem om te besef dat God altyd goed is en daarom nooit siekte veroorsaak nie. Aardse ouers weet om goeie dinge aan hul kinders te gee, hoeveel meer te meer sal ons hemelse Ouer weet om die goeie vir ons te gee. God wil vir ons die Heilige Gees gee sodat ons goeie en regte besluite vir ons lewens kan neem. (Lukas 11:9-13)
“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.”
JEREMIA 29:11 AFR53
God het goeie planne vir ons en wil hê ons moet ‘n oorvloedige en geseënde lewe lei. Lees Deuteronómium 28 om te sien dat God jou in elke area van jou lewe wil seën.
Soms staan dinge in die pad van jou genesing of deurbraak. Miskien is daar ‘n bloedlynsonde in jou familie waarvoor jy vergifnis moet vra. Of iemand in jou familie was dalk betrokke met towery (witchcraft). Miskien is daar iemand wat jy nog moet vergewe. In Dr. Randy Clark se boek “Stories of divine healing” vertel die mense dikwels hoe hul iemand moes vergewe voor genesing plaasvind.
“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
I JOHANNES 1:9 AFR53
Ek glo dis ons Vader se wil dat almal van ons gesond, gelukkig en welvarend is.
“en daar het ’n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig.”
MATTHÉÜS 8:2-3 AFR53
Ons maak dikwels God verantwoordelik vir ons eie slegte keuses of vir dinge wat satan van ons steel. Mense blameer God wanneer hulle nie hul sin kry nie. Ons het nodig om te besef dat God goed is en dat Hy ons so lief het dat Hy net die beste vir elkeen van ons wil hê. Hy is so lief vir jou dat die onmoontlike, moontlik word in jou lewe.
“en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,”
EFÉSIËRS 3:18-20 AFR53
Jy gaan tog nie iemand se raad volg as jy nie seker is dat hy die beste vir jou wil hê nie. Daarom is dit nodig om te weet dat God goed is en net die beste vir jou wil hê. Wanneer Hy dan vir ons vra om iets te doen weet ons dis omdat dit die beste vir ons is. Ons kan ook teleurstellings beter hanteer, want Hy weet wat’s die beste vir jou.
“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
ROMEINE 8:28 AFR53
Die Heilige Gees wil vir ons leer en Hy sien die toekoms en wil dit met ons deel.
“maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”
JOHANNES 14:26 AFR53
“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
JOHANNES 16:13 AFR53
Daar is net een wat so lief vir jou is dat Hy Sy Seun gegee het om vir jou te sterf.