GODDELIKE TRANSFORMASIE
- 5 minutes read - 871 wordsVolgens die internet is transformasie ‘n merkbare verandering in vorm, natuur of voorkoms. Goddelike transformasie het niks te doen met chirurgie, die neem van pille, gewigsverlies, geslagsverandering of ‘n fisiese voorkoms verandering nie. Dit is die wêreld se idee van transformasie. Onthou die wêreld kyk na hoe dinge van buite lyk. Die wêreld sien die “verpakking” of “window dressing”. God kyk na jou hart. Daar is nie ‘n kitsoplossing vir goddelike transformasie nie. Dit is ‘n proses en neem gewoonlik langer as wat jy dink.
“MAAR nou, so sê die Here, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!”
JESAJA 43:1 AFR53
“Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.”
GÉNESIS 32:28 AFR53
Jakob - Strong’s H3290 - volgeling, plaasvervanger, volg aan die hakskeen
Israel - Strong’s H 3478 - Geworstel met God (El)
Jakob het sy ouer tweelingbroer se eersgeboortereg gekoop vir ‘n pot lensiesop. Later moes Jakob vir sy pa Isak bedrieg om die seën te ontvang as eersgeborene. Gevolglik moes Jakob vlug, maar hy het God ontmoet en alles het verander. Jakob die bedrieër en volgeling het ‘n transformasie ondergaan na Israel, die Vader van baie nasies.
“Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
MATTHÉÜS 16:17-19 AFR53
Ons het Simon leer ken as ‘n visserman en as een van Jesus se dissipels - Matthéüs 4:18-20. Toe Simon die openbaring van God kry dat Jesus die Seun van God is, het Jesus sy naam verander na Petrus.
Simon - Strong’s G 4613 - hy het gehoor of gehoorsame een.
Simon beteken ook riet - “The Divinity code to understanding your dreams and visions” geskryf deur Adam F. Thompson et.al.
Petrus/Peter/Petros - Strong’s G 4974 - rots of klip
Bar-Jona - Seun van Jona
Die riet het ‘n rots geword. Die riet is deur die wind van omstandighede rondgewaai, maar die rots is standvastig. Petrus het ‘n transformasie ondergaan van ‘n ongeskoolde vissersman tot ‘n man vol Heilige Gees insig en krag - Handelinge 2-4. Petrus wat vroeër uit vrees, vir Jesus verloën het, het nou soveel goddelike outoriteit gehad dat sy skaduwee mense kon genees. Elke mens se lewe kan verander wanneer hulle Jesus leer ken en hulself oorgee om deur die Heilige Gees gelei te word.
“Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan 'n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.”
JOHANNES 3:3-8 AFR53
Jesus het aan Nikodémus verduidelik dat ‘n mens ‘n transformasie of wedergeboorte moet ondergaan wanneer jy die Heilige Gees ontvang. Jy leef nie meer ‘n vleeslike selfsugtige lewe nie. Die Heilige Gees bring goddelike transformasie sodat jy God se wil kan doen. Selfs Jesus het nodig gehad om die Heilige Gees te ontvang en moes meer leer en groei.
“En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.”
LUKAS 2:52 AFR53
Ons almal moet ‘n goddelike transformasie ondergaan om meer en meer soos Jesus te word.
“Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar 'n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”
II KORINTHIËRS 3:15-18 AFR53
“Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;”
ROMEINE 8:29 AFR53