GOD HET ALTYD ‘N OPLOSSING
- 2 minutes read - 324 words“Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. Maar jý sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.”
GÉNESIS 15:13-15 AFR53
God het vir Abraham gewaarsku dat die Israeliete vir 400 jaar verdruk sal word in ‘n ander land. Toe Abraham hierdie profesie ontvang het was hy kinderloos. Abraham se kleinseun Jakob, sy seuns en hulle families, het eers baie jare later na Egipte gegaan omdat daar ‘n hongersnood in Israel was. Gelukkig was Josef reeds in Egipte. God het selfs die haat van Josef se broers gebruik om alles glad te laat verloop in Egipte.
“Want júlle (die broers) het wel kwaad teen my (Josef) bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om 'n groot volk in die lewe te hou.”
GÉNESIS 50:20 AFR53
Ek het altyd gewonder waarom die Israeliete nie na die hongersnood teruggekeer het na Israel nie? Ons vind die antwoord ook in die Bybel. Die Amoriete sou verslaan moes word met die terugkeer na Israel. Selfs daarvoor was daar ‘n regte tyd.
“En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.”
GÉNESIS 15:16
Dikwels sien ons nie die volle prentjie nie. Of omstandighede en pyn maak ons soms geestelik blind en doof. Draai na Jesus met jou probleme. Al lyk dinge sleg; Heilige Gees wil ‘n oplossing met jou deel. God het ‘n oplossing vir elke probleem.
Génesis 18:14
Sou iets vir die Here te wonderbaar wees?
Jeremia 32:27
Kyk, Ek is die Here, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?