GOD IS MY VOORSIENING
- 3 minutes read - 576 wordsEk het ‘n visioen gehad waar ek wat stap met my inkopiesak oor my regterskouer. Stap simboliseer my lewenswandel. ‘n Inkopiesak simboliseer my voorsiening en God is altyd aan my regterkant. God is dus my voorsiening.
“Ek stel die Here altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.”
PSALMS 16:8 AFR53
“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”
JESAJA 41:10 AFR53
Baie jare gelede was daar ‘n advertensie van Salticrax beskuitjies. In die begin van die maand was daar baie lekker goed bo-op die beskuitjies, maar teen die einde van die maand was daar net droë beskuitjies. As God my voorsiening is behoort ek teen die einde van die maand steeds lekker te eet. Ons is so ingestel op die wêreld en die vlees dat ons vergeet dat God se voorsiening nie opraak teen die einde van ‘n maand nie.
“'n PSALM van Dawid. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.”
PSALMS 23:1, 6 AFR53
Kyk weer na Dawid se woorde: “Niks sal my ontbreek nie” en “net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe”.
“Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.”
MALEÁGI 3:10 AFR53
As jy ‘n tekort ondervind moet jy uitvind waar dit vandaan kom. Is dit jou aksies, woorde of negatiewe houding.? Verwag jy die beste van God elke dag? Is dit ‘n gebrek aan vertroue in God wat jou tekort veroorsaak? In die KJV (King James Version) lees ons dat die mense God beperk het -“…And limited the Holy One of Israel”.
“en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk (beperk). Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie;”
PSALMS 78:41-42 AFR53
Ons het vrylik toegang tot God se stoorhuis deur Jesus Christus. Ek onthou ‘n tyd wat ek nie geweet het waar die geld vir die studies en ‘n motor vir my kind vandaan sou kom nie. Ek onthou hoe God deure oopgemaak het vir ‘n nuwe huis en nog baie meer. Ek het geleer dat wanneer ek my hoop en vertroue in Jesus plaas, gaan deure vir my oop. Jesus wil dieselfde vir jou doen. Herinner jouself gedurig aan al die kere wat God vir jou deure geopen het. ‘n Dankbare hart maak ‘n groot verskil.
“Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see — sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”
MATTHÉÜS 21:21-22 AFR53
“En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”
FILIPPENSE 4:19 AFR53