God se beloftes is ja en amen
Janine Forsyth
- 2 minutes read - 249 wordsAbraham en Sara was oud en kinderloos en tog het God vir hulle ‘n nageslag belowe. God het belowe dat Abraham se nageslag so baie sal word soos die sand by die see.
“dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.”
GÉNESIS 22:17 AFR53
Ongeveer 800 jaar later toe Salomo koning was, lees ons Abraham se nageslag “was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte”. God het gekies om vir Abraham en Sara net 1 seun (Isak) te gee en tog het Sy beloftes waar geword.
“Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly.”
I KONINGS 4:20 AFR53
Miskien voel jy soos Abraham en Sara vandag; jy wag steeds vir God se beloftes om waar te word. Hou aan met glo en vertrou. God is getrou en Sy beloftes sal waar word.
“God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?”
NÚMERI 23:19 AFR53
“Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.”
II KORINTHIËRS 1:20 AFR53