GOD SE HEERLIKHEID KOM
- 2 minutes read - 298 words
“IN die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.
Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg.
En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!
En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword.”
JESAJA 6:1-4 AFR53
Ek vind dit baie interessant dat Jesaja verwys na die dood van koning Ussía (2 Kronieke 26). Dit voel vir my ou sisteme of regerings moet val voordat God se heerlikheid werklik sigbaar gaan word. Ussía het trots geword en ek glo trots sal tot die val van baie lei. God sal verkies dat leiers tot bekering kom en daarom moet Christene daarvoor bid.
Ons moet ook besef dat God se heerlikheid nie net skielik op Aarde gaan verskyn nie. Die engele het God geloof en prys en dit ‘n beweging of roering veroorsaak wat die drumpelposte laat bewe het. Daarna het die huis vol rook geraak. Die rook simboliseer God se heerlikheid. Ons moet dus God loof en prys sodat ‘n beweging kan plaasvind. Wat uit jou mond kom bou op of breek af. God se woorde het die Aarde en alles daarop geskep. Jesus se woorde het siekes genees en demone uitgedryf. Ons kan berge versit met ons stem wanneer ons glo (Matthéüs 17:20).
Ons kan nie langer passief en sit en wag dat ander mense hulle stemme moet gebruik nie. Jy moet jou stem gebruik om God se heerlikheid te bring.