HABAKUK
Janine Forsyth
- 4 minutes read - 724 wordsHabakuk was ‘n profeet van Juda ongeveer 600 v.C. - net voor die Babiloniese ballingskap. Habakuk het die sonde van Juda raakgesien en met God daaroor gepraat.
“Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin. Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn. Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie.”
HÁBAKUK 1:3-5 AFR53
God het die Chaldeërs gestuur om Juda aan te val en Habakuk het op die stadsmuur gaan staan. ‘n Profeet moes God se hart deel met die mense, maar was ook ‘n wag op die mure om die mense veilig te hou - Jesaja 62:6-7.
Op die muur het God met Habakuk gepraat. God het die sonde van die mense aangespreek, maar ook ‘n positiewe woord gegee vir die toekoms.
“OP my wagtoring wil ek gaan staan en op 'n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord. Toe antwoord die Here my en sê: Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees. Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie: Kyk, sy (die trotse) siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.
Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek.
Maar die Here is in sy heilige tempel — swyg voor Hom, o ganse aarde!”
HÁBAKUK 2:1-4, 14, 20 AFR53
Habakuk het ‘n gebed tot God gesing. Hy het geweet God is groter en sterker as die vyand. Hy het sy situasie “omhels” (Habakuk - Strong’s H2265 - “embrace”) en op God vertrou. Selfs wanneer alles om hom sleg gelyk het, het hy steeds op God vertrou. Maak nie saak wat vandag gebeur nie, onthou dat God steeds goed is en ‘n goeie plan het vir jou.
“'n GEBED van Hábakuk, die profeet, op die wysie van Sjigjonōt. Here, ek het die tyding aangaande U verneem, ek het gevrees! Here, roep u werk in die lewe in die midde van die jare; in die midde van die jare laat dit bekend word. In toorn, dink aan ontferming. God kom van Teman en die Heilige van die berg Paran. Sela. Sy majesteit bedek die hemel, en die aarde is vol van sy lof. En glans soos sonlig is daar, ligstrale aan sy sy; en dáár is die omhulsel van sy krag. Voor Hom uit loop die pes, en 'n koorsgloed trek uit agter Hom aan.
U trek uit tot redding van u volk, tot redding van u Gesalfde. U verbrysel die kop van die huis van die goddelose en ontbloot die fondament tot by die nek. Sela. U deurboor met sy eie pyle die hoof van sy leiers wat storm om my te verstrooi; wie se gejuig is asof hulle die ellendige in die skuilhoek wil verslind. Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op ons 'n aanval maak.
Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie — nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil. Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.”
HÁBAKUK 3:1-5, 13-14, 16-19 AFR53