HEBREËRS 12
- 5 minutes read - 1056 wordsDie Bybel sê ons het “‘n groot wolk van getuienis rondom ons”. Sommige mense dink dat hierdie ‘n groep mense is wat reeds in die Hemel is. Ander dink dit verwys spesifiek na die helde in Hebreërs 11. Die punt is daar ‘n mense wat voor ons hul wedloop suksesvol voltooi het en dit behoort ons aan te moedig om dieselfde te doen.
Ons moet alles wat ons pla asook sonde aflê sodat ons hierdie lewensreis suksesvol kan voltooi. Die TPT (The Passion Translation) Bybel veduidelik alles baie mooi. Lees dit gerus en kyk na al die addisionele inligting wat hulle gee. Ons moet van elke pylpunt wat binne-in ons is, ontslae raak. Wanneer mense jou seermaak of te nakom in woord of daad en jy nie dadelik vergewe nie, bly die punt van die pyl in jou agter. Die wond sukkel om te genees totdat jy die mense vergewe het. Baie mense ontwikkel ‘n klip harde hart van al die seerkry van hierdie lewe. Om meer van God te ontvang moet ons harte sag en ontvanklik bly. Wanneer jy nie van die pylpunt ontslae raak nie sal dit moeilik wees om vorentoe te beweeg.
Die wedloop voor jou is ‘n hindernis wedloop, want satan staan reg om jou te stop om elke hoek en draai. Die Griekse woord “agona” wat “agony” of angs beteken word gebruik om hierdie wedloop te beskryf. Dit is dus nie ‘n maklike wedloop nie. Die Aramees verwys spesifiek daarna dat hierdie jou persoonlike wedloop is. Jou wedloop gaan dus nie soos ander mense s’n lyk nie. God het ‘n spesifieke skeppingsplan vir jou. Jy is geskep en ‘n daar is ‘n boek in die Hemel met al die wonderlike planne wat God vir jou lewe het (Psalms 139:16). Elke persoon se oë behoort dis op Jesus te wees sodat jy instruksie kan ontvang vir jou individuele wedloop. Wanneer jou oë op die wêreld of mense rondom jou is gaan jy teleurstelling ervaar en mismoedig word. Jou bron is Jesus en niks en niemand anders nie. Ons verwagting (hoop) moet geheel en al op Jesus wees en glad nie op die wêreld nie. Ek weet hierdie is vir my ook altyd ‘n moeilike een. ‘n Mens se aandag word so maklik weggelok deur die bekommernisse van die lewe.
Jesus het met Sy lewe betaal vir ons vryheid en sit nou aan die regterkant van die Vader. Wanneer Jesus na ons kyk sien Hy nie ons foute en tekortkominge raak nie. Hy sien ons potensiaal en daarom het Hy aarde toegekom sodat ons vry kan word om dit te doen wat God in ons boeke geskryf het. Jesus wat sondevry was, was bereid om in die wêreld te kom vir jou, daarom moet jy ook nie moed opgee nie, en jou reis suksesvol voltooi. Soms straf ‘n ouer sy kind en daarom bestraf God ons ook soms wanneer ons foute maak. Dit is wat ‘n liefdevolle ouer behoort te doen. Die eindresultaat sal ‘n gelukkiger meer balanseerde en verantwoordelike kind wees. God leer ons om meer heilig, soos Hy te wees, want vers 14 sê dat “sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie.”
Ons moenie haat of bitterheid toelaat in ons lewens nie. Wanneer iemand jou te nakom kan jy kies om die persoon te vergewe en die insident te vergeet. Jy hoef nie vriende met almal te bly nie. Om jouself vry te hou, stel jy die ander persoon vry en jy herhaal (replay) nie die gesprek oor en oor in jou gedagtes nie. Jy kan die volgende sê:
“Ek kies om ……… te vergewe. Ek laat dit wat hulle gedoen het vry van my siel. Ek bind God se liefde en vrede aan my siel.”
Ons kan nie mense verander nie, slegs die Heilige Gees kan. Bid steeds vir hulle. Met sommige mense kan jy ‘n situasie deurpraat en steeds vriende bly. Ander gee jy vir Jesus en maak net seker jy is vry. Satan wil ons altyd herinner aan slegte tye, moenie dit toelaat nie. Dink aan hemelse goed wat goed en heilig is (Kol 3:2, Fil 4:8).
Jy kan jouself versterk deur jou hande op te lig en God te loof en prys terwyl jou voete die pad van God volg. Maak 100% seker dat jy nie sonde in jou lewe het nie. Moenie (soos Esau) te laat besef dat jy nie God se dinge waardeer nie.
In die Ou Testament het Moses vir God op die berg ontmoet. Daar was ‘n geraas soos met ‘n donderstorm en donker wolke was sigbaar. Die diere en ander mense kon nie die berg aanraak nie of hulle sou sterf. Jesus het vir ons gesterf en tree in by God vir ons. Daarom kan ons God ontmoet waar ons ook al is. Ons gaan na ‘n geestelike berg om Hom te ontmoet in ons stilte tyd. Ons het toegang tot God se menigte engele, wat aan ons hulp verleun. Die Heilige Gees woon binne-in ons en kan enige tyd Sy stem hoor. Dis vandag steeds dieselfde God wat met ons praat. Daarom is dit vandag steeds belangrik om te luister wanneer God praat (Hebreërs 3). Daar is steeds slegte gevolge wanneer mense nie na God se stem wil luister nie.
Vir ‘n laaste keer sal die aarde en die hemel (die donker sataniese in die eerste en tweede hemel - Efésiërs 6:12) geskud word (of bewe) sodat alles wat “wankelbaar” (onstabiel, feilbaar, mensgemaak) is vervang moet word deur die “onwankelbare” (stabiele, ewige, hemelse) dinge (Haggai 2:6-9). Miskien is dit wat ons nou voel. Hebreërs 12 eindig deur te sê dat “God ‘n verterende vuur” is (Deuteronómium 4:24, 9:3). God se vyande (Psalms 21:10) en almal wat God nie ken nie (2 Thessalonicense 1:8) en ongehoorsaam is sal God leer ken as ‘n verterende vuur. Christene ken God as ‘n liefdevolle Vader, want wanneer ons God as ‘n vuur ervaar is dit om onsuiwerhede weg te neem sodat ons heilig kan lewe. God se Woord belowe dat Hy selfs met Sy kinders deur die vuur gaan.
“As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”
JESAJA 43:2 AFR53