HELDE VAN DIE GELOOF
- 13 minutes read - 2564 wordsEk was nog nooit ‘n volgeling van mense nie, maar slegs ‘n volgeling van Jesus. Ek sal egter nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om van ander Christene te leer nie. In Hebreërs 11 lees ons van die Ou Testament se helde van die geloof. Wanneer ons na die Nuwe Testament kyk is Jesus die grootste held, maar ons kan ook baie by Paulus en die ander apostels leer. Daarom dink ek dit is goed om meer te weet van God se helde wat die hedendaagse pinkster beweging begin het.
Vir ongeveer 1800 jaar het die Heilige Gees se werking in die kerk verdwyn. Daar was egter steeds mense wat Heilige Gees en wonderwerke ervaar het. Baie van die Nuwe Testament se helde het hulle lewens verloor vir hulle geloof. Ek glo dit het ‘n groot bydrae gelewer tot die dooie godsdiens wat gevolg het en wat ons vandag steeds sien. Die liggaam het hulle krag verloor, maar ons kan dit weer terugkry.
“maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”
HANDELINGE 1:8 AFR53
“En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare.”
JOËL 2:28-30 AFR53
WAARSKUWING: Bly weg van mense wat nie krag het nie. Ek glo dit verwys na volwasse Christene. God is altyd vol genade en liefde en sal altyd vir ons geleentheid gee om te leer en te groei.
“mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
II TIMÓTHEÜS 3:5 AFR53
Baie van hierdie geloofshelde het foute gemaak of slegs openbaring gehad vir sekere werkinge van die Gees. Sommige het in genesing geglo, maar nie in die praat van tale nie. Sommige mans het gedink dat vroue te swak is om ‘n roeping te hê. Maria Woodworth Etter, Amy Semple McPherson en Kathryn Kuhlman het die teendeel bewys en baie mense se lewens verander. Party het goeie werk vir God gedoen en is later in hul lewens mislei. Ek gaan nie konsentreer op hulle foute nie, maar konsentreer op wat hulle reg gedoen het.
Ons kan leer uit hulle foute:
• Dis belangrik om die hele Woord te lees en te ken sodat ons nie mislei word nie.
• Dit is ook nodig om vol geloof te bly en nie moedeloos te raak nie.
• Fokus op Jesus en jou roeping; moenie jaloers raak nie.
• Moedig die mense aan om Jesus te volg en nie vir jou nie.
Dit is wonderlik om te sien hoe hierdie helde by mekaar geleer het. Dikwels sou hulle genesing en wonderwerke sien en dit het hulle motiveer om self Heilige Gees te leer ken. Soms sou koerante artikels publiseer oor die tent byeenkomste en wonderwerke. Vandag beland predikers net in die nuus wanneer hulle iets verkeerds doen. Duisende wonderwerke gebeur, maar jy sal dit nooit in die nuus sien nie.
EDWARD IRVING
In 1827 het Edward Irving van Skotland na Londen gegaan en begin preek dat die kerk die Heilige Gees moet verwelkom. Hy het gesê dat die Heilige Gees steeds daar was en die Nuwe Testament se kerk was steeds die model wat mense kon volg. Edward Irving was ‘n voorloper vir die charismatiese beweging en het ook in geloofsgenesing geglo.
JOHN ALEXANDER DOWIE
Hy het in Skotland studeer en daar van Edward Irving se lering gehoor. In 1876 het hy in Sydney, Australië, begin preek dat geloofsgenesing steeds moontlik is. Op daardie stadium was baie van sy gemeentelede siek en het hulle gesterf. Nadat Dowie ‘n openbaring gehad het dat siekte van die duiwel was het sy gemeentelede nie meer gesterf weens die siekte nie. In 1880 het Dowie ‘n reisende evangelis geword en vreeslik baie mense is genees in Australië, Nieu Seeland, San Francisco en Chicago. Hy het later ‘n dorp opgerig in Illinois, wat hy Zion (Sion) genoem het. John G Lake en F F Bosworth het oorkant mekaar in Sion gewoon.
WILLIAM SEYMOUR
Seymour het in 1900 na Chicago gegaan om by Dowie te leer, maar het na ‘n jaar aanbeweeg na Cincinatti, Ohio. Seymour het gevoel God roep hom, maar het dit ignoreer. Hy het pokke gekry en sy een oog verloor. Nadat Seymour meer rondgetrek het, het hy begin preek in Houston, Texas. Seymour het Charles F Parham se Bybelskool bygewoon. Hy moes in die gang sit en luister omdat hy ‘n swart man was. In 1906 het William Seymour na Los Angeles gegaan om daar te preek. Sy kerk het hom egter uit die gebou gesluit omdat hulle nie gemaklik was met sy radikale boodskap nie. Een van die gemeentelede het hom ontferm oor William en hy kon ‘n Bybelstudie groep by sy huis begin. Die Heilige Gees het oor die groep gekom en hulle het in tale begin praat. Later het hulle na Azusa Straat getrek en hier het herlewing plaasgevind. Mense van alle groepe van die samelewing het hier bymekaar gekom en die werking van die Heilige Gees was duidelik sigbaar. Vir 3 jaar lank was daar 3 byeenkomste per dag. Seymour het sy kop bedek met ‘n kartondoos; alle aandag was op Jesus. Arms het aangegroei, gewasse het afgeval en God se heerlikheid was duidelik sigbaar vir 3,5 jaar lank. Die brandweer het geleer van “shekinah glory” en later geweet om nie daarheen te gaan as iemand vlamme by die gebou sien nie. Azusa Straat se herlewing herinner ‘n mens baie aan Jesus se tyd. Seymour het al die eer aan God gegee wanneer daar genesing en wonderwerke gebeur het. In 1909 het Seymour profeteer dat daar ‘n groter herlewing sal wees, ongeveer ‘n 100 jaar later. Hy het geglo dat hierdie herlewing sal aanhou tot Jesus terugkeer.
CHARLES FOX PARHAM
Hy was net 15 jaar oud toe hy evangelisasie werk begin doen het. Parham het medies studeer toe hy dodelik siek raak. God het hom genees van rumatiekkoors toe Charles bereid was om te begin preek. Sy klompvoet (club foot) is ook genees. In die laat 1800’s het hy John Alexander Dowie besoek. Charles was ‘n vurige aanstaander van geloofsgenesing. Charles het ‘n bybelskool begin en Heilige Gees was sy fokus. Hulle het 24 uur ‘n dag gebid. Mense het in tale begin praat en sommige kon bo-natuurlik ‘n nuwe taal begin praat sodat hulle kon sendingwerk doen in ander lande. William Seymour was 1 van Parham se studente.
JOHN G. LAKE
John het siekte, dood en hartseer geken. Hy het baie familielede verloor. Sy broer was ‘n invalide, en sy 2 susters en sy vrou was siek. Sy broer en susters is genees nadat hulle by John Alexander Dowie was in Chicago. John het ‘n brief gestuur om te vra dat Dowie vir sy vrou bid en sy is ook genees. John G. Lake het ‘n openbaring gehad dat Jesus steeds genees. Selfs toe sy vrou geskiet is het hy mediese hulp geweier en net gebid.
Hy het in 1904 na Sion getrek om by Dowie te leer. Later het Lake en F F Bosworth na Los Angeles gegaan waar hulle by William Seymour geleer het dat mens ook in ander tale kan praat. Van 1908 - 1913 het John G Lake in Suid-Afrika gewoon en dit was die begin van die pinksterbeweging hier. Selfs die dodelike plaag het in sy hand gesterf. Ongeveer ‘n miljoen mense in Suid-Afrika het tot bekering gekom en baie is genees. Later het hy “healing rooms” in Spokane, Washington, begin. Meer as 100 000 mense is daar genees in 5 jaar.
F.F. BOSWORTH
Hy het tot bekering gekom toe hy 16 was. Hy was dodelik siek toe ‘n vrou vir hom bid. God het ‘n wonderwerk gedoen en hom genees. Hy en sy familie het na Sion getrek waar God vir John Alexander Dowie gebruik het om baie wonderwerke te doen. Bosworth het ‘n diens van Charles Parham bygewoon en besef daar is meer. Hy het na Los Angeles gegaan om William Seymour se dienste by Azusa Straat by te woon.
Later het hy pastoor van ‘n Assembly of God kerk geword. Hy was bereid om oor kleurgrense te preek in ‘n tyd wat dit nie algemeen was nie. Hy het Maria Woodworth Etter na sy kerk genooi. Later het hy en sy broer saam gereis en gepreek. Baie mense is genees en het tot bekering gekom deur sy reise en radio bediening. Na sy aftrede het hy begin reis saam met William Branham en dit was ‘n hoogtepunt vir hom. Hy het meer genesings as ooit te vore gesien.
WILLIAM BRANHAM
Branham het baie arm groot geword. Voor sy bekering het God reeds bo-natuurlik met hom kommunikeer. Op ‘n vroeë ouderdom het God hom gewaarsku om nie te drink of te rook nie. Na sy broer se dood het Branham se soeke na God begin. Branham het ernstig siek geword en het ‘n keuse gehad of hy wou sterf of preek. Hy het na ‘n kerk gegaan waar hulle vir hom gebid het en God het hom genees. Hy was 24 jaar oud toe hy tent byeenkomste begin hou het. Hy is uitgenooi om saam met ‘n pinkstergroep te reis en te preek. Sy vriende het hom oortuig dat dit nie ‘n goeie idee was nie. Branham se vrou en dogter het gesterf. Ek glo nie God het hulle laat sterf nie, maar ongehoorsaamheid los ‘n oop deur vir die vyand om in te kom. Branham het weer getrou en 3 kinders gehad. God het ‘n engel gestuur om vir hom te wys dat God hom as ‘n profeet wou gebruik. God wou ander mense se skete en sonde met hom deel sodat hy vir hulle genesing kon bid. Dadelik hierna het Branham genesings dienste regoor Amerika gehou. Van die 1940’s tot 1950’s is baie mense van verskillende siektes genees. Branham het later ook na ander lande gereis.
SMITH WIGGLESWORTH
Van ‘n jong ouderdom het Smith ‘n behoefte gehad om God te leer ken. Sy ouma het hom kerk toe geneem. Hy het later sy ma na Jesus gelei. Hy het ‘n loodgieter geword en deeltyds gepreek. Sy vrou het gepreek en Smith het meer betrokke geraak by sy besigheid. Smith het van goddelike genesing geleer toe sy vrou genees is. Hyself het ophou pille drink en is genees. Toe sy kinders siek word het hy vir hulle gebid en hulle is genees. Tot sy ontsteltenis het die leiers van ‘n kerk hom eendag in beheer van die kerk gelos. Hy het vir siekes gebid en God het hulle gesond gemaak. Later het hy ‘n pinksterkerk bygewoon en Heilige Gees ontvang. Baie mense het Jesus aanvaar en is genees by sy dienste. Toe sy vrou sterf het hy vir haar gebid en sy het wakker geword en vir Smith oortuig om haar te laat gaan na haar Hemelse Vader. God het vir Smith gebruik om blindes, dowes, kreupeles en selfs 14 dooies te genees.
Wigglesworth het in 4 stappe geglo:
1. Lees die Woord.
2. Neem die Woord in totdat die Woord jou oorneem.
3. Glo die Woord.
4. Neem aksie.
Hy het regoor die wêreld gereis en mense is genees. Wanneer daar baie siekes was het hy vir die groep gebid en honderde mense is so genees.
A A ALLEN
Sy ouers was alkoholiste en hy was 14 toe hy van die huis wegloop. Hy was 23 toe hy Jesus aanvaar het en 2 jaar later is hy met Heilige Gees gevul. Allen het sy vrou gevra om hom toe te sluit in sy gebedskamer sodat hy meer van God kon kry. Hy sou soms net ‘n oomblik uitkom, ‘n happie kos eet en dan meer van God soek. Op ‘n dag het daar ‘n lig geskyn in sy gebedskamer. God het vir Allen aangeraak en instruksies gegee oor sy roeping. Later het hy ‘n Oral Roberts genesings diens bygewoon. Wanneer Allen preek het God mense in hul sitplekke genees.
MARIA WOODWORTH ETTER
Maria het Jesus begin volg toe sy 13 jaar oud was. Sy het ‘n visioen gesien en God se stem hoor sê dat sy Sy verlore skape moet versamel. Haar kerk het nie vroue toegelaat om sendingwerk te doen nie. Sy het gedink dat as sy getroud is kan sy saam met haar man sendingwerk doen. Hulle het op ‘n plaas gaan woon. Ses van hulle 5 kinders is dood en die boerdery was nie baie suksesvol nie. Uiteindelik was Maria gehoorsaam en het sy begin preek. Sy het vir siekes begin bid en God het duisende genees. Tot 25 000 mense het in ‘n tent bymekaar gekom om na Maria te luister. Sy was bekend daarvoor dat die Heilige Gees haar in ‘n beswyming (trance) neem. Die tydperk van 1890 - 1900 was baie moeilik vir Maria. Sy is in hegtenis geneem en vervolg a.g.v. haar kontroversiële roeping. Die mense was nie gewoond aan ‘n vrou wat preek nie en dan het sy nog mense genees en in ‘n beswyming gegaan. Sielkundiges het beweer dat sy geestelik versteurd was omdat sy visioene gesien het. Maria was ‘n voorloper in die werke van die Heilige Gees in ‘n tyd waar die kerk nog onbewus was daarvan.
AIMEE SEMPLE MCPHERSON
Aimee was 18 toe sy met ‘n sendingwerker getroud is. Twee jaar later is haar man dood in China en sy en haar pasgebore baba het by haar ma in New York gaan woon. Sy het weer getrou en na die geboorte van haar tweede kind het sy aan ernstige depressie gely totdat sy haar roeping aanvaar het. Aimee het haar ma en kinders in ‘n motor gelaai en begin preek. Op ‘n keer het hulle selfs hul hande op ‘n papwiel gelê. Aimee was baie dinamies en dramaties en het groot skares gelok. Duisende mense is bekeer en genees van 1915-1944. By die kerk het sy groot liefdadigheids projekte begin wat na die armes omgesien het.
KATHRYN KUHLMAN
Kathryn was 14 toe sy Jesus aanvaar het. Twee jaar later het sy saam met haar suster en swaer begin reis as evangeliste. Na 5 jaar het sy en die pianis die groepie verlaat en op hul eie begin reis en preek. Kathryn was vir ‘n kort tydjie getroud en het saam met haar man gereis en gepreek. In 1947 het herlewing uitgebreek toe ‘n vrou genees is terwyl Kathryn preek. Duisende mense is genees en sy het aanhou preek tot kort voor haar dood in 1976. Kathryn het ‘n uitsonderlike liefde en verhouding met Heilige Gees gehad. God het Kathryn gebruik om emosionele en fisiese genesing te bring terwyl God se liefde tasbaar was.
Hierdie helde van die geloof se stories inspireer my; ek hoop dit doen dieselfde vir jou.
BRONNE:
Healingandrevival.com
https://youtube.com/@robertsliardon?si=XoIJB3voGlHh8zCQ
https://youtu.be/z5I2sw7OOi8?si=UjSB0xgotTMWy2fX
Miracles in the Glory: Unlocking the Realm of Signs and Wonders Through the Presence of God: Shamp, Amy, Shamp, Jesse, Jansen, Jeff, Liardon, Roberts, Goll, James W., Mills, Joshua, King, Patricia, Beyer, Kaye, Shultz, Steve, Thompson, Adam: 9780768442908: Amazon.com: Books