Hemelse uitrustings
- 4 minutes read - 649 words“En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.”
GÉNESIS 2:25 AFR53
“Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.”
GÉNESIS 3:7 AFR53
Terwyl Adam en Eva in God se heerlikheid gelewe het was hul naaktheid nie ‘n probleem nie. Toe hulle sonde doen het God se heerlikheid verdwyn en kon hulle sien dat hulle sonder klere was. Sonde laat God se heerlikheid verdwyn. Die Bybel waarsku ons om nie naak gevind te word nie. Dit verwys duidelik nie daarna om sonder ‘n fisiese hemp, broek, rok of skoene te wees nie. Dit handel oor ‘n geestelike bedekking.
“Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.”
OPENBARING 3:18 AFR53
“Kyk, Ek kom soos 'n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.”
OPENBARING 16:15 AFR53
Paulus sê ons is geklee in tydelike tentwonings hier op Aarde (2 Korinthiërs 5: 1-10). Wanneer ons aardse bestaan beëindig word wil ons nie naak gevind word nie. Ons wil “oorklee” wees met ‘n hemelse woning. Ek glo dit beteken dat ons met God se heerlikheid geklee sal wees.
Klee jouself in Christus.
“dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”
EFÉSIËRS 4:22-24 AFR53
“Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.”
KOLOSSENSE 3:3-4, 10, 12, 14 AFR53
Jesaja 61 profeteer dat Jesus sal kom en ons sal geklee word “in ‘n gewaad van lof” (garments of praise) en Hy sal ons ook klee in “klere van heil” (garments of salvation) en in die “mantel van geregtigheid” (robes of righteousness). Ons sien dat hierdie Skrif tot vervulling gekom het in Lukas 4. Jesus het siekes gesond gemaak en bevryding gebring, maar ook later Sy lewe gegee om vir ons sondes te betaal Deur Jesus kan ons dus gered word en geregtigheid ontvang. Ons kan die ewige lewe beërwe en wit klere ontvang omdat ons deur Jesus vergifinis ontvang het.
“DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
ROMEINE 8:1 AFR53
Ons doel is dus om geklee te wees in goddelike uitrustings. Ons wil geklee wees in Jesus en ons wil lofsange sing vir die Een wat Sy lewe gegee het vir ons. Ons wil ons klere van verlossing en mantels van geregtigheid ontvang in die Hiernamaals. Ons wil wit klere ontvang wat simboliseer dat ons sonder sonde is omdat ons die wêreldse dinge agtergelaat het. Ons wil geklee wees in Jesus se liefde. Ons wil geklee wees in die Vader se heerlikheid en die wêreld om ons verander en beïnvloed. Jesus het nooit by die kultuur van Sy omgewing aangepas nie. Kom ons wees meer soos Jesus sodat ons nie naak gevind word nie.