HERODES
Janine Forsyth
- 4 minutes read - 798 wordsStrong’s G2264 - heldhaftig (“heroic”) dit is afgelei van die stamwoord held (“hero”).
Dit is nie altyd baie duidelik in die Bybel na watter Herodes die skrywers verwys nie. Navorsers gebruik ou geskrewe boekrolle om vir ons meer te leer. Ander bronne se datums mag dalk verskil van die Thayer Lexicon, maar dit gee vir ons ‘n beter idee oor wat gebeur het in daardie tyd.
Thayer Lexicon:
- Die Herodes familie was die koninklikes in die tyd van Jesus en die apostels. Herodes die Grote het koning geword in 37 v.C. Hy het guns gevind by die Romeine en baie gehou van die Romeinse leefstyl. Hy het die Hasmoneër koninklikes vermoor. Hy was so wreed dat hy selfs sy Hasmoneër vrou en 2 seuns dood laat maak het. Dit was die einde van die Griekse beheer en die begin van die Romeinse beheer oor die Jode. Herodes se ouers was van Iduméa (Edom [rooi] - Esau se nageslag het daar gewoon). Herodes die Grote het die tweede tempel baie vergroot. Jesus en Johannes is aan die einde van sy koningskap gebore. Herodes die Grote wou al die seuntjies onder 2 vermoor.
“EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.”
MATTHÉÜS 2:13 AFR53
- Herodes die Grote se seun Herodes Antipas was die volgende koning. Hy was eers ‘n viervors (hy het oor ‘n kwart van die area regeer) voordat hy koning geword het. Hy het sy eerste vrou verwerp en sy broer Herodes Filippus se vrou Heródias as vrou geneem. Johannes die Doper was ongelukkig hieroor en Herodes het hom gevange geneem en later laat onthoof. Jesus het voor Herodes Antipas verskyn.
“EN in daardie tyd het Herodes, die viervors, die gerug van Jesus gehoor en aan sy knegte gesê: Hierdie man is Johannes die Doper. Hy het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in hom. Want Herodes het Johannes gevang, hom geboei en in die gevangenis gesit vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer. Want Johannes het vir hom gesê: Dit is u nie geoorloof om haar te hê nie.”
MATTHÉÜS 14:1-4 AFR53
“En Pilatus en Herodes het op daardie dag goeie vriende geword, want hulle was vantevore in vyandskap teenoor mekaar. Toe roep Pilatus die owerpriesters en die owerstes en die volk bymekaar en sê vir hulle: Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie; ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie.”
LUKAS 23:12-15 AFR53
- Herodes Agrippa I, die kleinseun van Herodes die Grote, het koning geword in 39 n.C. Hy het die dissipel Jakobus (broer van Johannes) laat doodmaak en Petrus gevange geneem. Herodes Agrippa I was ongeveer 5 jaar koning en het gesterf in 44 n.C.
“EN omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen. En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring. En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode.”
HANDELINGE 12:1-3 AFR53
“En op 'n bepaalde dag het Herodes 'n koninklike kleed aangetrek en op die troon gaan sit en hulle toegespreek. Daarop het die volk hom toegeroep: 'n Stem van 'n god en nie van 'n mens nie! En onmiddellik het 'n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.”
HANDELINGE 12:21-23 AFR53
- Die volgende koning was Herodes Agrippa II (seun van Agrippa I). Paulus moes voor Agrippa II verskyn - Handelinge 25-26. Hy was die laaste Herodes.
“EN ná verloop van enkele dae het koning Agríppa en Berníce in Cesaréa aangekom om Festus te begroet. En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is 'n man deur Felix as gevangene agtergelaat,”
HANDELINGE 25:13-14 AFR53
Die Herodes koninklikes was baie onder die invloed van die Romeinse regering. Die Fariseërs het met die Herodiane saamgewerk om Jesus te kruisig.
“Toe gaan die Fariseërs uit en hou dadelik raad met die Herodiane teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring.”
MARKUS 3:6 AFR53