Hoe wag ‘n mens vir God se beloftes?
- 4 minutes read - 834 wordsHoe wag mens vir God se beloftes?
Wanneer jy beloftes uit die Woord of persoonlike profesie of selfs ’n belofte direk van God ontvang, wat doen jy daarmee?
God het Abram (75) geroep om Haran te verlaat en na ’n nuwe land te trek. In Génesis 12 lees ons dat God Abram ’n groot nageslag en baie seëninge belowe het. Later lees ons dat Abram wel aardse seën ontvang het, maar steeds kinderloos was.
“En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud.”
GÉNESIS 13:2 AFR53
Abram en Sarai het na 10 jaar in Kanaän besluit om hul eie planne te maak (Génesis 16). Abram het ’n seun, Ismael, gehad by Hagar. Soos altyd het die mens se eie planne net probleme veroorsaak en later moes Hagar en Ismael wegtrek. Dis duidelik dat ons nie ons eie planne moet begin maak wanneer die wag lank word nie. Abram (verhoogde vader) se naam is verander na Abraham (Vader van baie) toe hy 99 jaar oud is en God het belowe Sara (90) sal swanger raak met Isak. Abraham was 100 toe Isak gebore is en hulle het dus 25 jaar gewag vir die beloofde nageslag. Abraham en Sara het nooit die volle belofte in hulle leeftyd gesien nie, maar ons weet vandag word ons almal beskou as kinders van Abraham. God het dus Sy belofte nagekom.
“soos geskrywe is: Ek het jou ’n vader van baie nasies gemaak — voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie. En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken. Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.”
ROMEINE 4:17-25 AFR53
Dis nooit lekker om te wag nie, maar miskien verhaas jy die belofte met ’n goeie houding. Kom ons kyk wat kan ons doen om God se beloftes tot vervulling te laat kom.
• Moenie jou eie planne maak nie. Dink aan al die kere in die verlede wat dinge beter uitgewerk het, wanneer jy gewag het.
• Abraham het God se beloftes geglo en daardeur het Abraham geregtigheid ontvang. Glo jy God se beloftes, of dink jy dit is vir ander mense?
“God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?”
NÚMERI 23:19 AFR53
• “Roep die dinge wat nie bestaan nie asof hulle bestaan” (Rom 4:17). Begin dankie sê vir God dat jou huis reeds klaar betaal is. Verklaar jouself gesond of skuldvry. Sing tot eer van God oor al jou ongeredde familielede en vriende wat Hom ontmoet.
• Bly vol verwagting en hoop vir jou wonderwerk.
“verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.”
ROMEINE 12:12 AFR53 “VOLHARD in die gebed en waak daarin met danksegging;”
KOLOSSENSE 4:2 AFR53“En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”
I JOHANNES 3:3 AFR53“Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”
ROMEINE 15:4 AFR53
• Jy is nie ’n slagoffer nie. Jy is ’n koning en priester wat saam met Jesus regeer. Jy het outoriteit oor satan en elke bose mag.
• Jy is nie alleen nie. God het die Heilige Gees gestuur om jou trooster te wees, maar ook om vir jou vrede te gee (Johannes 14:26-27).
• Moenie op jou probleem fokus nie. Plaas jou oë op Jesus. Jy het selfbeheersing en daarom kan jy kies waaraan jy dink (Kolossense 3:2). Hou jouself besig met God se dinge en voor jy weet sien jy jou belofte tot vervulling kom.
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”
MATTHÉÜS 6:33-34 AFR53