HOU JOU OË OP JESUS
- 3 minutes read - 450 words“die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”
HEBREËRS 12:2 AFR53
Ek glo Jesus kon die kruisdood deurgaan omdat Sy oë op die Vader was. Ons weet die dissipels wat vir Hom moes bid het aan die slaap geraak en engele het gekom om Hom te versterk. Daarna was Jesus Godverlate toe Hy moes afdaal na die hel en Hy het 3 dae later eers teruggekom. Jesus het die dood oorwin so niks wat ons deurgaan sal ooit so erg wees soos Jesus se lyding nie.
Stéfanus is gestenig weens sy geloof en hy kon in vrede sterf omdat sy oë op Jesus was. Ek het gelees van ‘n Russiese soldaat wat geweier het om sy geloof te laat vaar (Jesus Freaks geskryf deur D.C.Talk) Gevolglik is hy gedwing om gedurende die baie koue wintersnagte in ‘n somers uniform wag te staan. Die braaf soldaat het sy oë op Jesus geplaas en het dit oorleef. Hy is later doodgemaak deur sy owerhede. Bobby Conner het op ‘n keer vertel dat hy sonder verdowing ‘n wortelkanaal behandeling vir sy tande kan laat doen.
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
MATTHÉÜS 6:33 AFR53“en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,”
EFÉSIËRS 2:6 AFR53
Ek glo hierdie doelbewuste fokus op Jesus is vir ons almal beskikbaar. Jy kan kies of jy al die klappe en skoppe van die wêreld wil voel en of jy jou oë op Jesus wil plaas. Jy gee dan jou wil om aanstoot te neem en die pyn of moeilikheid van die wêreld geheel en al oor aan Jesus. Jou begeertes word dan minder belangrik sodat Jesus deur jou kan leef.
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
GALÁSIËRS 2:20 AFR53“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”
MATTHÉÜS 11:28-30 AFR53
Jesus wil jou las lig maak. Is jy bereid om alles oor te gee aan Hom en jou oë op Hom te hou?