IS DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS WAKKER?
- 5 minutes read - 983 wordsEk het onlangs ’n droom gehad waar ek siek is. Ek het buite gestaan in my nagklere en was laat om die hek oop te maak vir my kinders se verjaarsdag partytjie. Toe die hek oopgaan het daar reeds ’n ry motors staan en wag.
Ek het die liggaam van Christus voorgestel wat siek is, aan die slaap is en laat is. Ek wil byvoeg dat ons naïef is en glo dat wêreldse leiers weet wat die beste vir ons is. In die Nuwe Testament het die apostels geweet die Romeinse koning, die Fariseërs en die skrifgeleerdes, dra nie hul belange op die hart nie. Ons is nie gevul met die Heilige Gees en het nie onderskeidingsvermoë nie. Dit laat my dink aan die gelykenis van die 10 maagde in Matthéüs 25. Al 10 vroue was sonder sonde. Al 10 het reggemaak om Jesus te ontmoet, maar die 5 onverstandige maagde het nie ekstra olie gehad nie. Die verstandige maagde het ekstra olie gehad en saam met die Bruidegom gegaan. Toe die onverstandige maagde opdaag was die deur gesluit en die Bruidegom het gesê dat Hy hulle nie ken nie. Die ekstra olie het dus bepaal of die vroue die Messias geken het of nie. Die olie stel God se teenwoordigheid, die Heilige Gees, voor. Ons almal (mans en vroue) kan nie net weet van God nie, ons moet Hom werklik ken.
Ons luister na wat die media vir ons opdis. Ons almal weet dat satan hom kan voordoen as ’n engel van die lig. Omdat jou kerkleier sê iets is toelaatbaar beteken dit nie dit is nie. Maak seker by God en laat die Heilige Gees en God se Woord vir jou antwoorde en oortuiging bring. Satan gebruik mense om baie van sy vuilwerk te doen. Mense leef in vrees wanneer hulle luister na al die slegte nuus. Jesus het reeds betaal vir elke siekte, staan op Sy woord (Jes 53, Ps 91).
“Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.”
I JOHANNES 4:18 AFR53
Omdat ons nie in die geheim wreedaardige dinge doen nie, dink ons dikwels ander mense sal dit ook nie doen nie. Ongelukkig is ons in die wêreld en satan staan steeds reg om mense te verlei. Die Bybel sê ons moet “nugter en waaksaam” wees (1 Petrus 5:8).
Die ry motors stel al die mense voor, wat in lyn staan om van ons te ontvang. Ek is al 40 jaar lank ’n Christen, maar het eers die laaste 10 jaar besef God wil my gebruik om ander te help. Elke Christen het ’n verantwoordelikheid om my sy/haar roeping uit te leef. God wil hê ons moet ’n gesonde liggaam wees en vol vreugde byeenkom soos wanneer ons ’n partytjie hou.
Die vraag op baie Christene se lippe is, is dit die eindtyd? Wanneer ek die Skrif bestudeer moet daar nog ’n tyd kom waar God se heerlikheid op die aarde uitgestort gaan word.
“Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin. Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn. Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie.”
HÁBAKUK 1:3-5 AFR53
In die laaste 18 maande het ek meer verdraaiing van geregtigheid gesien as in my eerste 50 jaar op aarde. Mense word vervolg vir allerande belaglike redes. Jou stem mag slegs gehoor word as jy sê wat “hulle” wil hoor. Jy word verban op sosiale media as jy jou eie opinie het. Christene word in ’n mate vervolg, in sogenaamde Christen lande. Christene in die 10/40 venster word erger vervolg as ooit tevore.
“STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang. Slaan jou oë rondom op en kyk — hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra. Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan.”
JESAJA 60:1-5 AFR53 “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek.”
HÁBAKUK 2:14 AFR53 Ek glo dit is waar ons nou is. Daarna glo ek sal die eindtyd volg. Onthou niemand weet presies wanneer Jesus terugkom nie. Die volgende Skrif skud my altyd wakker.“Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier.”
OPENBARING 17:13 AFR53
Daar gaan ’n tyd kom waar mense so verblind is deur satan en charismatiese leiers dat hul bereid sal wees om al hulle outoriteit prys te gee. Wees dus wakker, maar moenie in vrees lewe nie. As jy vrae het oor dinge wat om jou gebeur vra vir Jesus. Hy sal vir jou wys waar om te kyk en die Heilige Gees sal jou help.
“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
JOHANNES 16:13 AFR53