IS DIE BRUID GEREED?
Janine Forsyth
- 2 minutes read - 388 wordsOns dogter het Woensdag, 24 September, getrou met ‘n pragtige Jesus man. Tong in die kies het ek haar gewaarsku dat ons dalk nie daar sal wees nie, want ons sal dalk ‘n ander (ons hemelse) huwelik bywoon. Toe hulle op ‘n datum besluit het, het hulle nie besef dit val op Rosh Hashanah (Joodse Nuwejaar) nie. Elke bruilof op aarde is ‘n “dress rehearsal” vir die bruilofsmaal van die Lam.
Ons het maande lank beplan aan hulle perfekte dag. Sy wou ‘n tuin troue hê en almal wat in die Kaap woon weet dat dit dikwels reën in September. Jesus het vir hulle ‘n perfekte sonskyndag gegee. Die wind het vir ‘n oomblik gewaai en toe weer stil geword. Die gras was te lank en moes gou gesny word. Die bruidegom se pak was eers die dag voor die troue gereed. Daar was ‘n probleem met die sleutel van hulle huisie. Die blommemeisie was siek, maar gesond genoeg om baie oulik die ringe en konfetti te hanteer. Die trourok se hakie het gebreek toe die bruid aantrek.
Daar was nie tyd om die hakie op te spoor en aan te werk nie. ‘n Vinnige gebed oor die situasie en alles was reg. Die kos, die blomme, hare, grimering, dekor, musiek en seremonie was perfek.
Ek weet nie hoe die wêreld ‘n troue beplan sonder Jesus nie. Daar was soveel redes om angstig te word, maar elke keer was daar ‘n oplossing omdat ons alles met Jesus doen. Ek was so verlig toe alles verby was en die bruid en bruidegom sê alles was soos hulle dit wou hê. Eendag sal ons almal saam met Jesus bruilof hou in die Hemel. Die bruid moet haar gereed maak vir Jesus se koms. Is die bruid gereed?
“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.”
OPENBARING 19:7-9 AFR53