IS GOD IN BEHEER?
- 5 minutes read - 996 wordsAdam en Eva het in ‘n perfekte verhouding met God geleef. Hulle het in die koelte van die aand saam met God gewandel. Hulle moes heers oor die aarde en kon eet van die vrugte in die tuin. Dit was asof hulle Hemel op aarde ervaar het totdat Adam en Eva na die listige slang geluister het en van die verbode vrugte geëet het. Daarna het alles verander. Jaloesie, haat, siekte, droogte, tekort en hongersnood het nou deel van hulle lewe geword. Hul seun Kain het die eerste moordenaar geword toe hy sy broer Abel uit jaloesie vermoor het. Wat het in die eerste plek verkeed gegaan? Adam en Eva het ‘n perfekte lewe prysgegee vir ‘n appel, terwyl hulle omring was deur ander perfekte vrugte. Ek glo die antwoord is in Génesis 1:28.
“En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”
GÉNESIS 1:28 AFR53
Dit was ‘n opdrag van God dat Adam en Eva moes heers oor die diere. God het soveel vertroue in die mens gehad dat Hy aan hulle dIe verantwoordelikheid gegee het om na die tuin om te sien. Daar was slegs een boom waarvan hulle nie mag eet nie, hulle moes vermeerder en heers oor die diere. Ek hoor dikwels mense sê dat God in beheer is. As God in beheer was sou Hy nie beheer gegee het aan Adam en Eva nie. As God in beheer was sou ons almal vandag vandag steeds, sonder sonde, in Eden gebly het. God het ons in beheer gelos oor die aarde.
“Die hemele is hemele vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.”
PSALMS 115:16 AFR53
“wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:”
PSALMS 8:5-7 AFR53
Baie mense verwag dat God gedurig moet ingryp en situasies verander. Ek glo God gryp in gedurende sekere seisoene. In Noag se tyd het God ingegryp. Met die bou van die toring van Babel het God ingegryp. Noag en sy familie het God gedien ten spyte van die feit dat die res van die wêreld in sonde geleef het. Kom ons kyk na Lot en Abraham (Génesis 12- 14, 18,19). Abraham was geroep deur die Here om sy familie agter te laat en na ‘n nuwe land te trek. Lot het saamgegaan en vinnig was daar probleme tussen hulle veewagters. Abraham wou nie hê dat hul stry nie en het Lot gevra om die grond te kies waar hy wou bly. Lot het die Jordaanstreek gekies omdat dit baie water en pragtige plantegroei gehad het. Wat hy nie kon sien nie was dat daar baie sonde in die area gedoen is. Daar het oorlog uitgebreek tussen die konings in die area en Lot en sy familie was weggevoer as gevangenes. God het nie ingegryp nie. Abraham moes sy outoriteit gebruik en ‘n plan maak om Lot te red. Die Bybel sê God het vir Abraham gehelp om sy vyande te oorwin. Met God se hulp kon Abrahan dus regeer oor die land en sy vyande. Ons lees later dat God wou ingryp en Sodom en Gomorra wou verwoes weens die sonde van die inwoners. Weer moes Abraham sy outoriteit gebruik om te baklei vir die veiligheid van Lot en sy familie. Ons lees nêrens wat Lot se roeping was of dat hy sy outoriteit gebruik het nie. Lot was afhanklik van Abraham se verhouding met God. Ons sien ‘n soortgelyke situasie met die Israeliete se trek uit Egipte. Moses, Josua en Kaleb het ‘n verhouding met God gehad. Al die ander Israeliete wou afhanklik bly van Moses se verhouding met God.
“Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos 'n man met sy vriend spreek. Daarna gaan hy na die laer terug; maar sy dienaar Josua, 'n jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die tent verwyder nie.”
EXODUS 33:11 AFR53
“Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.”
PSALMS 103:7 AFR53
Ek glo ons is steeds in dieselfde situasie. Is jy ‘n Abraham of is jy ‘n Lot? Ons dink altyd die aarde is in chaos gehul omdat die duiwel oorneem. Waarom neem die duiwel oor? Omdat die Christene nie heers en regeer oor die aarde nie. Die mens is die enigste lewende wese wat na die beeld van God gemaak is. Ons het outoriteit ontvang om die atmosfeer om ons te verander. Die mense in die Nuwe Testament was verbaas dat Jesus met outoriteit oor siektes en demone regeer het. Christene weet Jesus sit aan die regterkant van die Vader, maar ons vergeet dat ons ook reeds saam met Hom in hemelse plekke sit (Efésiërs 2:6). Jesus het vir ons gewys hoe om te regeer. Toe Jesus se werk op aarde afgehandel was het Hy opgevaar na die Hemel. Jy is steeds op aarde omdat jou taak nog nie afgehandel is nie. Sit jy en wag vir God of ander Christene om jou lewe te verander? Ester moes ook tot die besef kom dat sy ‘n taak het om te verrig. “You were born for such a time as this” (Esther 4:14). Ester het ‘n hele nasie gered deur haar outoriteit te gebruik. Wie weet wat jy kan doen?
“En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”
MATTHÉÜS 16:19 AFR53