IS JY GEREED?
Janine Forsyth
- 5 minutes read - 920 wordsDie grond was heilig waar die Engel van die Here (waarskynlik Jesus) verskyn het. Moses het in die huis van die farao grootgeword waar afgode aanbid is. Daarna het Moses ‘n man doodgeslaan en tussen die Midianiete gebly. Moses was vol sonde en het nie vir God geken nie. Hy moes sy skoene uittrek voordat hy nader aan God kon gaan.
“Daarop verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vuurvlam uit 'n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie! En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die Here sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.”
EXODUS 3:2-6 AFR53
In die derde maand na die uittog uit Egipte het die Israeliete by Sinaí gekom. Moses kon God op die berg ontmoet, maar die res van die Israeliete moes eers hulle klere was en hul self heilig voordat hulle vir God kon ontmoet. Die geluid van die basuin het die koms van God op die berg aangekondig.
“En die Here het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in 'n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jóú kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die Here meegedeel. Verder het die Here aan Moses gesê: Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre, en laat hulle hul klere was en hulle gereed hou teen die derde dag. Want op die derde dag sal die Here voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal. Toe het Moses van die berg af na die volk gegaan en die volk geheilig, en hulle het hul klere gewas. En hy het aan die volk gesê: Hou julle klaar teen die derde dag; moenie naby die vrou kom nie. En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en 'n swaar wolk op die berg en die geluid van 'n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het. Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg. En die hele berg Sinai het gerook, omdat die Here in 'n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van 'n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe. Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord.”
EXODUS 19:9-11, 14-19 AFR53
Die basuin sal Jesus se terugkoms aankondig. Net soos die Israeliete moet ons voorbereidings tref vir Jesus se koms. Die vlekkelose bruid sal saam met Jesus gaan. Jy hoef nie jou skoene uit te trek of klere te was nie, maar jou geestelike lewe moet reg wees. Ons moet Jesus aanvaar, maar ook sondeloos wees. Sonder heiligmaking kan ons nie die ewige lewe ontvang nie.
“En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”
MATTHÉÜS 24:30-31 AFR53
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
I THESSALONICENSE 4:16-17 AFR53
“in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”
I KORINTHIËRS 15:52, 55-58 AFR53
“DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”
I PETRUS 1:13-16 AFR53