IS JY ‘N JONA?
Janine Forsyth
- 2 minutes read - 338 wordsJona: Strong’s H3124 - duif
Duif: ‘n Simbool van hoop en vrede (Génesis 8:8-12), Heilige Gees (Matthéüs 3:16) en opregteid of onskuld (Matthéüs 10:16).
God het vir Jona gestuur, maar hy was ongehoorsaam. Jona het weggehardloop van God en sy roeping. Jona se naam het ‘n positiewe betekenis; hy kon nie eers die skuld vir sy ongehoorsaamheid op sy ouers pak nie. Jona se ongehoorsaamheid sou duisende na die verderf laat gaan. Sy ongehoorsaamheid het ‘n deur geopen vir moeilikheid. Doen jy dieselfde?
God het elke mens geskape vir ‘n spesifieke doel. Jy het ‘n roeping en God wil jou gebruik; God het ‘n boek vol goeie planne vir jou lewe (Psalms 139:16). Slegs jy is verantwoordelik vir jou keuses.
Jesus het ‘n gelykenis vertel van ‘n bruilof (Matthéüs 22:1-14). Almal was uitgenooi na die bruilofsmaal van die Lam. Baie was te besig en het nie belanggestel om dit by te woon nie. Is jy te besig met jou eie lewe?
“Want baie is geroep, maar min uitverkies.”
MATTHÉÜS 22:14 AFR53
Jona moes 3 dae en nagte in die walvis deurbring voordat hy gehoorsaam was. Dit is ‘n simbool van Jesus in die graf. Jesus het alles gegee om gehoorsaam te wees aan die Vader. Hy het ons nie alleen gelos nie, maar Heilige Gees gestuur om ons te help.
Wat gaan jy doen?
“TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.”
MATTHÉÜS 16:24-27 AFR53