Jaag Die Verkeerde Gedagtes en Gevoelens Weg
- 2 minutes read - 316 wordsOns braaistoep is ‘n pragtige vertrek, maar die enigste probleem is dat daar nog 3 skuifdeure ingesit moet word. Ons het nie troeteldiere nie en verwelkom die voëltjies in die tuin. Met tye sal daar 5 kwikstertjies op die stoep wees. Hulle geniet dit om op die tafel en stoele te sit, maar maak ongelukkig ‘n groot gemors. Ek is regtig nie baie gelukkig wanneer ek die gemors moet skoonmaak nie. Elke keer wanneer ek hul op die stoep sien, jaag ek hul so kalm moontlik op sodat hul nie wegvlieg nie, maar net op ‘n ander plek in die tuin sal gaan sit. Na ‘n rukkie sal hul almal weer terug wees op die stoep. Dit het my laat besef dat wanneer satan vir my verkeerde gedagtes gee, moet ek hul uitjaag. Wanneer ek die gedagtes kans gee om wortel te skiet raak dit baie moeiliker om die gemors skoon te maak. Moenie broei op negatiewe goed wat mense vir jou sê nie. Stel enige slegte gedagtes vry van jou siel en rus in God se vrede.
Verkeerde gedagtes kan slegte gevolge hê.
Satan het vir Koning Dawid die idee gegee om die mense te laat tel. (2 Samuel 24, 1 Kronieke 21) Dit was nie God se wil nie en gevolglik het van die mense gesterf voordat Dawid sy sonde berou het.
Satan het vir Judas Iskariot die idee gegee om Jesus te verraai vir 30 stukke silwer. Judas was spyt oor sy sonde, maar was te trots om sy sonde aan God te bely en het selfmoord gepleeg. (Matthéüs 26,27, Johannes 13:27)
Moenie satan kans gee om jou gedagtes te beheer nie.
“Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
FILIPPENSE 4:8 AFR53