JAKOB
Janine Forsyth
- 10 minutes read - 1992 wordsJAKOB: Hakskeen gryper, vervanger, onderkruiper of verdringer
“En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.”
GÉNESIS 25:26 AFR53
BERSÉBA: Put van die eed of sewende put. God het voorsiening gemaak vir Isak en sy nageslag.
Isak, Rebekka, Jakob en Esau het in Berséba gewoon. God het hier aan Isak verskyn en selfs Abiméleg kon sien dat Isak “‘n geseënde van die Here” was.
“Daarna het hy vandaar opgetrek na Berséba. “En die Here het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg. Toe bou hy daar 'n altaar, en hy het die Naam van die Here aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar 'n put gegrawe.”
Daarop kom Abiméleg na hom van Gerar af, saam met Ahussat, sy vriend, en Pigol, sy leërowerste. En Isak het hulle gevra: Waarom het julle na my gekom terwyl julle my haat en my van julle af weggestuur het? Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die Here met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog 'n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons 'n verbond met jou sluit: jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die geseënde van die Here. Toe berei hy vir hulle 'n maaltyd, en hulle het geëet en gedrink. En hulle is die môre vroeg op en het vir mekaar 'n eed gesweer. Daarop het Isak hulle laat gaan, en hulle het in vrede van hom af weggetrek. Dieselfde dag kom toe die dienaars van Isak en vertel hom van die put wat hulle gegrawe het, en sê vir hom: Ons het water gekry. En hy het dit Seba genoem. Daarom is die naam van die stad Berséba tot vandag toe.”
GÉNESIS 26:23-33 AFR53
Jakob het Esau bedrieg en moes daarom vlug na sy oom Laban.
LUS: Amandel boom - Aäron en Moses het ‘n amandeltak as staf gehad. Jeremia het ‘n amandeltak gesien. ‘n Amandelboom vorm bloeisels baie vroeg in die Lente en is simbolies vir ‘n ontwaking. Jakob het ‘n geestelelike ontwaking ervaar. Sy oë is geopen en hy kon ‘n verhouding bou met God.
BET-EL: Huis van God
Jakob het moeg by Lus gekom en gaan slaap met ‘n klip onder sy kop. Hy het gedroom dat hy ‘n leer met engele sien wat strek tot in die Hemel. Die Here het bo-aan die leer gestaan en ‘n verbond met Jakob gesluit. Jakob het toe die plek Bet-el (Huis van God) genoem.
“Daarop kom hy by 'n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek. En hy het gedroom — daar is 'n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. En kyk, die Here het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die Here is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel. Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.”
GÉNESIS 28:11-19 AFR53
HARAN: Skuilplek, heiligdom, vryheid, sentrale hitte bron
JEGAR-SAHADÚTA: Aramees vir getuienis hoop (witness heap)
GAL-ED: Hebreeus vir getuienis hoop
MISPA: Wagpos
In Haran trou Jakob met Lea en Ragel en God seën hom met seuns, ‘n dogter en baie vee. Jakob en sy familie voel nie meer welkom by Laban nie en God gee opdrag dat hy weg moet trek. Laban volg Jakob omdat Ragel van sy afgode gesteel het. Hulle maak vrede en eet saam by ‘n plek wat Gal-ed genoem word.
“TOE hoor hy die woorde van die seuns van Laban, dat hulle sê: Jakob het alles geneem wat ons vader s'n was; en uit wat ons vader s'n was, het hy al hierdie rykdom verwerf. Jakob het ook meteens aan die aangesig van Laban gesien dat hy nie meer vir hom was soos gister en eergister nie. En die Here het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees.”
GÉNESIS 31:1-3 AFR53
“Kom dan nou, laat ons 'n verbond sluit, ek en jy, dat dit 'n getuie tussen my en jou kan wees. Daarop het Jakob 'n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig. En Jakob het aan sy broers gesê: Bring klippe bymekaar! En hulle het klippe gaan haal en 'n hoop gemaak en daar op die hoop geëet. En Laban het dit Jegar-Sahadúta genoem, maar Jakob het dit Gal-ed genoem. Toe sê Laban: Hierdie hoop is vandag 'n getuie tussen my en jou. Daarom het hulle dit Gal-ed genoem, en ook Mispa, omdat hy gesê het: Mag die Here wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie. As jy my dogters mishandel, en as jy vroue neem by my dogters, dan is geen mens by ons nie: Kyk, God is getuie tussen my en jou. Verder sê Laban vir Jakob: Daar is dié hoop klippe, en daar is die gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het — hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat ék na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jý na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie.”
GÉNESIS 31:44-52 AFR53
MAHANAÏM: Twee kampe, dubbel,
Jakob was nie alleen nie; God se weermag/leër/engele was met Jakob.
“JAKOB het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet. Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is 'n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem.”
GÉNESIS 32:1-2 AFR53
JABBOK: Leegmaak, uitloop
Jakob moes “leeg kom” sodat God hom kon gebruik.
ISRAEL: God heers of hy sal as God regeer. Jakob word die vader van die 12 stamme van Israel.
PNIËL: Gesig van God (El)
Jakob het sy mense in groepe verdeel en vooruit gestuur. Hy het alleen agtergebly en God het met hom geworstel. Jakob was mank hierna en God het sy naam verander na Israel.
“En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek: hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat aan hom behoort het. Maar Jakob het alleen agtergebly, en 'n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pniël verby was; en hy was mank aan sy heup.”
GÉNESIS 32:22-31 AFR53
SUKKOT: hutte, skuiling, naam van die loofhuttefees
Jakob en Esau het vrede gemaak en Jakob het na Sukkot getrek en vir hom ‘n huis en takkrale vir sy vee gebou. Jakob en sy familie het veilig in hutte skuiling gevind. Jare later het die Israeliete die loofhuttefees (Sukkot) begin hou. Hulle moet in tydelike hutte woon om die trek uit Egipte te herdenk. God was en is altyd met Sy kinders.
“Maar Jakob het na Sukkot weggetrek en vir hom 'n huis gebou en takkrale vir sy vee gemaak. Daarom het hy die plek genoem Sukkot.”
GÉNESIS 33:17 AFR53
SIGEM: Rug of skouer, rif
Sigem is die plek waar Jakob se dogter Dina misbruik is deur ‘n man met die naam Sigem. Símeon en Levi het al die manlike inwoners van Sigem doodgemaak.
Jakob het al die afgode laat begrawe by die terpentynbome van Sigem.
“En Jakob het behoue aangekom by die stad Sigem wat in die land Kanaän is, toe hy van Paddan-Aram gekom het — hy het sy laer voor die stad opgeslaan en die stuk grond gekoop waar hy sy tent opgeslaan het, van die seuns van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke. Daar het hy ook 'n altaar opgerig en dit genoem: Die God van Israel is God.”
GÉNESIS 33:18-20 AFR53
“Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is. En toe hulle weggetrek het, kom daar 'n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie.”
GÉNESIS 35:4-5 AFR53
BET-EL: Huis van God
Jakob het opgetrek na Bet-el en vir God ‘n altaar gebou. Jakob het geleer om naby aan God te leef.
EFRAT: ashoop, vrugbaarheid
BETLEHEM: Huis van brood.
Ragel sterf met die geboorte van Benjamin. Jesus word baie later gebore in Betlehem - huis van (die lewende) brood.
“En toe haar siel uitgaan — want sy het gesterwe — noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem. So het Ragel dan gesterwe; en sy is begrawe op die pad na Efrat, dit is Betlehem. En Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig; dit is die gedenkteken van die graf van Ragel tot vandag toe.”
GÉNESIS 35:18-20 AFR53
MIGDAL-EDER: Wagpos/ toring van die kudde.
Jakob gaan woon op die plek waar die herders baie jare later omsien na die pasga lammers vir die tempel. Ons Pasga Lam is hier gebore.
Daar was soveel profetiese tekens van Jesus wat sou kom in Jakob se lewe. Jakob die hakskeen gryper en onderkruiper het met God se hulp ‘n regeerder geword. Wat God vir Jakob gedoen het kan Hy ook vir jou doen. Vergeet van jou verlede en bou ‘n nuwe lewe in Christus.