JAKOB(US)
- 2 minutes read - 417 wordsYa’akov/Jakob/Jakobus/James: H3290, G2384/5 - volgeling, plaasvervanger, gryp die hakskeen.
Die naam word ook assosieer met ‘n bedrieër of ‘n misleier.
JAKOB
Génesis 25:19 -34, 27-35.
Jakob in die Ou Testament was die seun van Isak en Rebekka en die kleinseun van Abraham en Sara. Rebekka het geboorte geskenk aan ‘n tweeling. Esau is eerste gebore en daarna Jakob, wat aan sy broer se hakskeen vasgehou het. Esau het sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop vir lensiesop. Jakob het later sy pa bedrieg om die seëning van die eersgeborene te ontvang. Jakob moes vlug, maar God was met hom. Jakob word later Israel genoem en word die vader van die 12 stamme van Israel.
JAKOBUS
Ek het 4 mans met die naam Jakobus gevind in die Nuwe Testament. Daar was ‘n dissipel met die naam Judas wat die seun van Jakobus was (Lukas 6:16). Matthéüs 10:3 en Markus 3:18 noem hierdie dissipel Thaddéüs of Lebbéüs. Daar was ‘n dissipel met die naam Jakobus. Hy was die seun van Alféüs (Matthéüs 10:3).
Daar was ook ‘n meer bekende dissipel Jakobus. Hy was die broer van Johannes en hulle was die seuns van Sebedéüs (Matthéüs 4:21, 10:2). Die Bybel verwys na hulle ma, maar sê nie wat haar naam was nie (Matthéüs 20:20, 27:56). Jesus het Jakobus en Johannes die “seuns van donder” genoem (Markus 3:17). Jakobus het saam met Johannes en Petrus die verheerliking van Jesus aanskou (Matthéüs 17:1). Jesus het ook net hierdie 3 dissipels saam ingeneem toe Hy Jaïrus se dogtertjie genees het (Lukas 8:51). Dit wil voorkom asof Jakobus een van die drie dissipels was wat baie naby aan Jesus was. Jakobus is met die swaard doodgemaak in opdrag van koning Herodes (Handelinge 12:1-2) in ongeveer 44 n.C.
Jesus se half-broer se naam was ook Jakobus (Matthéüs 13:55). Die Bybel noem hom Jakobus, die kleine (Markus 15:40). Jesus was die oudste seun van Maria. Maria en Josef het meer seuns en dogters gehad (Markus 6:3). Die name van die seuns was Jakobus, Joses (Matthéüs 27:56), Judas en Simon. Die een suster se naam was Salome (Markus 15:40, 16:1). Jakobus het eers na Jesus se dood begin glo dat Jesus die Seun van God is (Johannes 7:5). Jakobus het die Bybel boek met dieselfde naam geskryf in ongeveer 45-48 n.C. Paulus het Jakobus ontmoet in Jerusalem (Galásiërs 1:19, Handelinge 21:18). In Handelinge 12:17 was Jesus se volgelinge, in Jakobus se huis, besig om vir Petrus te bid. Skrywers beweer dat Jakobus in ongeveer 62 n.C. gestenig is.