JÉRIGO
- 5 minutes read - 856 wordsJérigo H3405 - maanstad.
Jérigo word ook die palmstad genoem - Deuteronómium 34:3, Rigters 1:16, 2 Kronieke 28:15.
Die maanstad moes verwoes word en Josua het gesê dat enige iemand wat dit herbou vervloek sou wees. Jérigo is egter meer as een maal herbou. Die maan het geen lig van sy eie nie. Die lig van die son weerkaats en verlig die maan. Die son verwys na Jesus, die Lig van die wêreld, en die maan na die skepping wat Jesus se lig weerkaats. Satan/Lucifer wou homself gelykstel met Jesus, die son, maar het geval in die proses - Jesaja 14, Eségiël 28.
“In dié tyd het Josua hulle laat sweer met die woorde: Vervloek is die man voor die aangesig van die Here wat sal opstaan om hierdie stad Jérigo op te bou: ten koste van sy eersgeborene sal hy sy fondamente lê, en ten koste van sy jongste sal hy sy poorte insit.”
JOSUA 6:26 AFR53
Ons lees die eerste maal van Jérigo toe die Israeliete in die vlaktes van Moab, oos van die Jordaan, naby Jérigo, kamp opgeslaan het - Númeri 22. Balak, die koning van Moab, het vir Bíleam gestuur om die Israeliete te vervloek. Bíleam was vol trots en rebellie en die donkie het hier met hom gepraat. Later verslaan die Israeliete die Midianiete en Bíleam sterf ook - Númeri 30. Die Israeliete het egter nie die banvloek toegepas nie (Númeri 25) en het die vroue en van die besittings na Jérigo geneem. Jérigo was nie net ‘n sondige stad waar afgode aanbid is nie, maar ook die plek waar die Israeliete sonde gedoen het. God het hier Sy laaste instruksies aan Moses gegee oor die intog na Kanaän - Númeri 35:1, 36:13. Moses kon op die berg Nebo, wat teenoor Jérigo geleë is, klim om die Beloofde Land te sien. Moses het ook hier gesterf - Deuteronómium 32:49-50, 34.
Josua het 2 verspieders na Jérigo gestuur om die land en Jérigo te bekyk - Josua 2. Die 2 verspieders het oorgebly in die huis van Ragab, ‘n prostituut. Die Israeliete het op droë grond getrek deur die Jordaanrivier en daarna Jérigo verslaan. Ragab en haar familie was die enigste oorlewendes - Josua 6. Die Israeliete moes 6 dae om die mure stap en die sewende dag 7 maal voordat die mure van Jérigo omgeval het.
Die inboorlinge van Jérigo:
“Toe julle die Jordaan deurgetrek en by Jérigo gekom het, het die burgers van Jérigo, die Amoriete en Feresiete en Kanaäniete en Hetiete en Girgasiete, die Hewiete en Jebusiete teen julle geveg; maar Ek het hulle in julle hand gegee en perdebye voor julle uit gestuur, wat hulle voor julle uit verdryf het, — die twee konings van die Amoriete — nie deur jou swaard en nie deur jou boog nie.”
JOSUA 24:11-12 AFR53
Die stam van Benjamin (Jakob en Ragel se jongste seun) het die area noord van Jérigo en die stad Jérigo gekry - Josua 18:12,21.
Later bly van Dawid se manne in Jérigo totdat hulle baarde teruggegroei het- 2 Samuel 10:5, 1 Kronieke 19:5.
In die tyd van die wrede en sondige koning Agab en Isébel het Hiël die stad Jérigo herbou en gevolglik is sy oudste seun en jongste seun dood - 1 Konings 16:34.
Later stuur God vir Elía na Jérigo en Elísa volg hom daarheen - 2 Konings 2:4.
Terwyl Elísa in Jérigo was het mans na hom gekom en gesê dat die ligging van Jérigo goed was, maar dat die water sleg was en die land onvrugbaar was. Elísa het sout laat uitgooi by die waterbron en die probleem opgelos - 2 Konings 2:19-22.
Wanneer Kores toelaat dat die Israeliete terugkeer na Jerusalem om die tweede tempel te bou kom daar 345 “kinders van Jérigo” saam - Esra 2:34, Nehemía 7:36.
Manne van Jérigo het gehelp bou aan die mure en poorte van Jerusalem - Nehemía 3:2.
Koning Sedekía van Juda is in die vlaktes van Jérigo gevangene geneem deur Nebukadrésar, die koning van Babel - Jeremia 39:5, 52:8.
Jesus het by Jérigo blindes genees - Matthéüs 20:29-34, Markus 10:46-52, Lukas 18:35-43.
Jesus het ‘n gelykenis vertel van ‘n man wat van Jerusalem na Jérigo gereis het. Die man is aangeval en niemand wou hom help nie, behalwe die barmhartige Samaritaan - Lukas 10: 25-37.
Saggéüs het Jesus in Jérigo ontmoet - Lukas 19:1-10.
In Hebreërs 11:30 lees ons weer dat geloof in God die mure van Jérigo laat val het.
Vandag word die area waar Jérigo was die Wesbank genoem. Daar is baie konflik in die area. Jérigo was die eerste stad wat Josua en die Israeliete ingeneem het. Jérigo was dus beskou as die “eerste vrugte” en behoort dus aan God. Satan probeer homself steeds gelykstel aan God en veroorsaak dus konflik.
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
EFÉSIËRS 6:12 AFR53
Al het daar so baie slegte goed gebeur in Jérigo het Jesus steeds wonderwerke gedoen in Jérigo. Met Jesus is niks ooit verlore nie.