JERUSALEM
Janine Forsyth
- 10 minutes read - 2126 wordsSalem - Strong’s H8004 - vrede
Jebus - Strong’s H2982 - dorsplek
Jerusalem - Strong’s H3389,3390 - fondasie van vrede (Shalem/Salem)
In Abraham se tyd is die naam Salem vir Jerusalem gebruik en Melgisédek was die koning van Salem. Later het die Jebusiete daar gewoon en die stad is Jebus genoem. Noag se seun Gam het ‘n seun Kanaän gehad. Kanaän was die vader van die Kanaäniete wat uit 11 verskillende stamme bestaan het. Die Jebusiete was 1 van die 11 stamme. Die Jebusiete was ook deel van die Amoriete. God het ‘n verbond gesluit met Abraham en die land Kanaan aan sy nageslag belowe. Meer as 400 jaar later het Josua en Juda nie daarin geslaag om al die Jebusiete uit te dryf nie. Jare later het Dawid die dorsvloer van Arauna gekoop om vir God ‘n altaar te bou. Dawid het die Jebusiete verslaan en Jerusalem ingeneem. Die tempel is later gebou op die grond wat Dawid gekoop het. Dawid kon nie die tempel bou nie, want hy was geroep om te veg. Die tempel kon ook nie op grond gebou word waarop Dawid geveg het nie.
In Jesus se tyd was Jerusalem en die land Israel onder ‘n Romeinse regering. Later is die Jode oor die wêreld versprei en eers in 1948 kon die Jode terugkeer na Israel. In 1967 het Israel beheer oor Jerusalem gekry, maar die oorspronklike tempel area is steeds ingeneem deur 2 moskees. Israel is baie kleiner as wat dit was met die verbond wat God met Abraham gesluit het. Ek glo daar sal altyd konflik in Israel wees totdat die vals vrede ooreenkoms met die Antichris gesluit word. Dit is ‘n geestelike stryd tussen God en die duiwel. God wou ‘n plek van vrede (Salem) vir Sy mense hê, maar dit sal ook ‘n dorsplek wees waar die koring van die kaf geskei word (Jebus) en Jesus is altyd ons fondasie van vrede (Jerusalem). Ons moet steeds bid vir vrede in Jerusalem. Eendag sal ons saam met Jesus, ons Koning, in die Nuwe Jerusalem woon - Openbaring 21.
“En Melgisédek, die koning van Salem, wat 'n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.”
GÉNESIS 14:18-20 AFR53
“God is bekend in Juda, sy Naam is groot in Israel. Ook het in Salem sy tent verrys en in Sion sy woning.”
PSALMS 76:2-3 AFR53
“WANT hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook 'n tiende deel van alles gegee het — hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.”
HEBREËRS 7:1-3 AFR53
“EN dit is die stamboom van die seuns van Noag: Sem, Gam en Jafet — vir hulle is daar seuns gebore ná die vloed.
En die seuns van Gam was: Kus en Misráim en Put en Kanaän.
En Kanaän was die vader van Sidon, sy eersgeborene, en Het en die Jebusiete en Amoriete en Girgasiete”
GÉNESIS 10:1, 6, 15-16 AFR53
“En Kanaän was die vader van Sidon, sy eersgeborene, en Het en die Jebusiete en Amoriete en Girgasiete, en die Hewiete en Arkiete en Siniete, en die Arwadiete en Semariete en Hamatiete.”
I KRONIEKE 1:13-16 AFR53
“So het dan die vyf Amoritiese konings vergader en opgetrek: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon, hulle en al hul leërmagte; en hulle het Gíbeon beleër en daarteen geveg.”
JOSUA 10:5 AFR53
“Op dié dag het die Here met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.”
GÉNESIS 15:18-21 AFR53
“VERDER het die Here met Moses gespreek: Gaan heen, trek hiervandaan op, jy en die volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, na die land wat Ek met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; en Ek sal 'n engel voor jou uit stuur — en die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdrywe — na 'n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy 'n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer word.”
EXODUS 33:1-3 AFR53
“Toe antwoord Hy: Kyk, Ek sluit 'n verbond; voor jou hele volk sal Ek wonders doen soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie geskape is nie, sodat die hele volk onder wie jy is, die werk van die Here kan sien. Want verskriklik is dit wat Ek aan jou gaan doen. Onderhou wat Ek jou vandag beveel. Kyk, Ek verdrywe voor jou uit die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Neem jou in ag dat jy geen verbond sluit met die inwoner van die land waarin jy kom nie; sodat hy nie miskien 'n strik by jou word nie.”
EXODUS 34:10-12 AFR53
“EN toe al die konings wat wes van die Jordaan woon op die Gebergte en in die Laeveld en aan die hele kus van die Groot See na die kant van die Líbanon toe: die Hetiete en Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, dit hoor, het hulle bymekaargekom om soos een man teen Josua en Israel te veg.”
JOSUA 9:1-2 AFR53
“na die Kanaäniete in die ooste en in die weste en die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Jebusiete op die gebergte en die Hewiete onderaan Hermon, in die land van Mispa. Hulle het dan uitgetrek en al hulle leërs saam met hulle, 'n volk talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte, met 'n groot getal perde en strydwaens; en al hierdie konings het volgens afspraak byeengekom en saam laer opgeslaan by die waters van Merom, om met Israel oorlog te voer. Toe sê die Here vir Josua: Wees vir hulle nie bevrees nie; want môre omtrent sulke tyd sal Ek hulle, almal verslaan, aan Israel oorgee; hulle perde se hakskeensenings moet jy afsny en hulle waens met vuur verbrand. En Josua met al die weerbare manskappe by hom het skielik op hulle afgekom by die waters van Merom en hulle oorval.”
JOSUA 11:3-7 AFR53
“Verder loop die lyn op na die dal Ben-Hinnom, na die suidelike hang van die Jebusiete, dit is Jerusalem; dan loop die lyn op na die top van die gebergte wat westelik voor die dal Hinnom lê, wat aan die noordelike einde van die dal Refáim is.”
JOSUA 15:8 AFR53
“Maar die kinders van Juda kon die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, nie verdryf nie; daarom het die Jebusiete saam met die kinders van Juda in Jerusalem bly woon tot vandag toe.”
JOSUA 15:63 AFR53
“Maar die man wou nie die nag oorbly nie en het klaargemaak en weggetrek en gekom tot teenoor Jebus — dit is Jerusalem — met 'n paar opgesaalde esels by hom; ook sy byvrou was by hom. En toe hulle by Jebus kom en die son al baie gesak het, sê die dienaar aan sy heer: Kom tog, laat ons uitdraai na hierdie stad van die Jebusiete en daarin vernag.”
RIGTERS 19:10-11 AFR53
“Toe die koning met sy manne na Jerusalem wegtrek teen die Jebusiete, die bewoners van die land, het hulle met Dawid gespreek en gesê: Jy sal hier nie inkom nie, maar die blindes en lammes sal jou verdrywe — dit wil sê: Dawid sal hier nie inkom nie. Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem; dit is die stad van Dawid. En Dawid het daardie dag gesê: Elkeen wat 'n Jebusiet verslaan, laat hom in die waterkanaal neerwerp die lammes sowel as die blindes, van wie Dawid se siel 'n afkeer het! Daarom sê hulle: 'n Blinde en 'n lamme mag nie in die huis kom nie. En Dawid het in die bergvesting gaan woon en dit die stad van Dawid genoem; en Dawid het rondom, van Millo af na die binnekant, gebou. En Dawid het gedurigdeur groter geword, en die Here, die God van die leërskare, was met hom.”
II SAMUEL 5:6-10 AFR53
“En Dawid en die hele Israel het getrek na Jerusalem, dit is Jebus; en daar was die Jebusiete die bewoners van die land. En die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: Jy sal hier nie inkom nie. Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem, dit is die stad van Dawid. En Dawid het gesê: Elkeen wat eerste die Jebusiet verslaan, sal 'n hoof en 'n owerste word. Toe het Joab, die seun van Serúja, die eerste opgeklim en 'n hoof geword. En Dawid het in die bergvesting gaan woon; daarom noem hulle dit die stad van Dawid. En hy het die stad rondom opgebou van Millo af tot by die omtrek; en Joab het die orige deel van die stad herstel. En Dawid het gedurigdeur groter geword, en die Here van die leërskare was met hom.”
I KRONIEKE 11:4-9 AFR53
“Maar toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om dit te verwoes, het dit die Here berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting onder die volk moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! Die engel van die Here was toe by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet. Toe Dawid sien hoe die engel onder die volk doodslaan, het hy tot die Here gespreek en gesê: Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie. Daarop kom Gad dieselfde dag by Dawid en sê vir hom: Gaan op, bou vir die Here 'n altaar op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.”
II SAMUEL 24:16-18 AFR53
“En Arauna het gesê: Waarom kom my heer die koning na sy dienaar? Daarop sê Dawid: Om die dorsvloer van jou te koop, om vir die Here 'n altaar te bou, sodat die plaag onder die volk kan ophou. Maar Arauna sê vir Dawid: My heer die koning kan neem en offer wat goed is in sy oë, kyk, daar is die beeste as die brandoffer en die sleë en die trekgoed van die beeste as hout. Dit gee Arauna alles, o koning, aan die koning. Verder het Arauna aan die koning gesê: Mag die Here u God 'n behae in u hê. Maar die koning het Arauna geantwoord: Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir sy prys; en ek wil nie verniet aan die Here my God brandoffers bring nie. En Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer. Toe het Dawid daar vir die Here 'n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring; en die Here het Hom oor die land ontferm, en die plaag is van Israel afgewend.”
II SAMUEL 24:21-25 AFR53
“EN Salomo het die huis van die Here begin bou in Jerusalem op die berg Moría waar Hy aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek wat Dawid reggemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.”
II KRONIEKE 3:1 AFR53
“GODSPRAAK. Die woord van die Here teen die land Hadrag, en op Damaskus bly dit rus — want die Here hou die oog op die mense en op al die stamme van Israel. en die baster sal in Asdod woon — so sal Ek dan aan die trotsheid van die Filistyn 'n einde maak — en Ek sal die bloed uit sy mond verwyder en sy verfoeisels tussen sy tande uit; so sal hy dan ook vir onse God oorbly en wees soos 'n stamhoof in Juda, en Ekron soos 'n Jebusiet. En Ek sal om my huis 'n laer trek teen die leërmag, teen die wat heen en weer trek, sodat geen oorheerser hulle weer sal oorrompel nie; want nou het Ek dit met my eie oë gesien.”
SAGARÍA 9:1, 6-8 AFR53
“Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!”
PSALMS 122:6 AFR53