JESAJA 10
- 2 minutes read - 394 wordsWanneer ek Jesaja 10 lees lyk dit asof ek die gebeure die laaste paar jaar reg voor my oë sien gebeur het. Ek wil jou aanmoedig om Jesaja 10 te lees en kyk of jy dit ook raaksien. Salomo sê dat “niks nuut is onder die son nie” en ek glo sekere goed gebeur oor en oor.
Ons lees van mense in magsposisies en rykmense wat armer mense onderdruk. Hulle maak wette en reëls wat die weduwees en wese benadeel. Jesus het die Fariseërs om dieselfde rede tereggewys - Matthéüs 23 en Markus 12. Diegene wat ander onderdruk se geld gaan hulle nie red wanneer hulle voor God staan nie. (Geld is nie sleg nie, maak net altyd seker dat geld nie jou baas is nie. Onthou al die silwer en goud behoort aan God -Haggai 2:8 - en Christene moet geld hoofsaaklik vir koninkryk doeleindes gebruik.)
Soos jy verder lees sien jy dat die vyand kon inkom en God se kinders onderdruk omdat hulle vas aan die slaap was. Ek glo die bruid (oorblyfsel) het behoorlik wakker geskrik na 2020. Volgens Gateway News het 50 000 (van die 75 000) moskees in Iran toegemaak. Die mense is so onderdruk dat hulle Jesus begin soek en gevind het. Ek glo dit gebeur reg oor die wêreld. Die vyand is egter so arrogant dat hy dink hy het gewen en hy gaan nou regeer. Die vyand besef nie dat Christene se sonde vir hom ‘n voet in die deur gegee het nie. Die vyand dink hy het dit alleen gedoen. God sê egter wanneer Hy klaar met Sy bruid gewerk het sal Hy die vyand oordeel.
“En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die Here, die Heilige van Israel, in opregtheid. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe.”
“Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid.” (Kyk ook Romeine 9:27)
JESAJA 10:20-22 AFR53
Ons weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, maar ons weet Jesus is by ons en Heilige Gees sal ons altyd help.