Jesaja 7
- 3 minutes read - 515 wordsDie hoofstuk begin waar Peka die koning van Israel/Efraim se noordelike 10 stamme en Resin die koning van Aram/Sirië saam wil werk om Juda (2 suidelike stamme) te verslaan. Agas, kleinseun van Ussía, was op hierdie stadium koning van Juda. Toe Juda die slegte nuus hoor was hulle angsbevange. God het Jesaja en sy seun Sjear Ja-sjub (“the remnant will return” - die oorblyfsel sal terugkeer) gestuur om koning Agas te ontmoet.
Jesaja verwys dikwels na ‘n klein oorblyfsel van die volk wat sal terugkeer na Israel - Jesaja 1:9, 6:13, 7:3,22.
Jesaja en sy seun moes Agas by die watervoor van die Bleikveld ontmoet. Dit is die plek waar vuil wasgoed gewas en gebleik is. Agas het die geleentheid gekry om skoon te word voor God (Markus 9:3). Hy het egter nie die geleentheid aangegryp nie. Eers het Jesaja vir Agas gerusgestel dat Israel en Sirië nie vir Juda sal verslaan nie. Later is Israel se 10 stamme versprei tussen die nasies en Sirië se vyande het hulle verslaan.
…. As julle nie glo nie — voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!
JESAJA 7:9b AFR53
Agas wou nie sy hoop in God plaas nie en die sterk weermag van Assur het later teen Juda geveg. Jesaja profeteer dat Jesus die teken sal wees. Agas het nie belanggestel om te hoor oor Jesus nie. Jesus is die antwoord vir al die wêreld se probleme. God sal altyd oordeel bring oor diegene wat Sy kinders te nakom. Jesus en die Nuwe Verbond verhinder ons om self wraak te neem.
“In dié dag sal die Here met die skeermes wat anderkant die Eufraat gehuur is, met die koning van Assur, afskeer die hoof en die hare van die voete; en dit sal ook die baard wegneem. En in dié dag sal 'n man 'n jong koei en 'n paar skape in die lewe hou; en weens die oorvloed van melk wat hulle gee, sal hy dikmelk eet; want dikmelk en heuning sal almal eet wat in die land oorgebly het. En in dié dag sal elke plek waar duisend wingerdstokke staan, wat die waarde van duisend sikkels silwer het, vir die dorings en distels wees. Met pyl en boog sal hulle daarheen kom, want die hele land sal vol dorings en distels wees. En al die berge wat met die pik bewerk is — daar sal hulle uit vrees vir dorings en distels nie kom nie; maar dit sal dien om die beeste in te jaag en om deur die kleinvee vertrap te word.”
JESAJA 7:20-25 AFR53
Dit mag dalk lyk asof alles om jou verwaarloos lyk. Dit mag lyk of die vyand wen en dat jy ‘n ernstige tekort het. Ek wil jou gerusstel. Een jong koei en ‘n paar skape kan met Jesus ‘n oorvloed van melk en heuning voortbring vir die oorblyfsel. Moenie vaskyk in jou tekort nie. Kyk na Jesus. Moenie kla en brom soos die Israeliete nie. Die bietjie in jou hand word baie met Jesus. ‘n Dankbare hart en geloof in Jesus bring oorwinning in enige situasie.