Jesus het gekom sodat ons oorvloed kan ervaar
- 3 minutes read - 593 words“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
JOHANNES 10:10 AFR53
Ek hou van hoe die “The Passion Translation” dit sê:
“A thief has only one thing in mind—he wants to steal, slaughter, and destroy. But I have come to give you everything in abundance, more than you expect —life in its fullness until you overflow!”
John 10:10 TPT
Siekte soos covid-19 is vandag satan se manier om te “steel, slag en te verwoes”. Satan is ’n dief en hy vat alles wat hy kan. Ons sien hoe mense siek word en sterf. Ons sien hoe besighede tydelik en permanent toegemaak word. Ons sien hoe finansies en lewens kwaliteit gesteel word. Ons sien hoe mense geïsoleer word, weggehou word uit kerke en familie byeenkomste. Mense word depressief weens isolasie. Mense kan nie met vakansie gaan nie en kry nie genoeg rus nie. Satan kan dit nie op sy eie doen nie, hy gebruik mense om sy gruwelike planne hier op aarde uit te voer. Ons sien hoe mense stry oor inentings en weer wen satan. Dit is hoe ons die pandemie in Suid-Afrika ervaar. Volgens Geopende Deure leef die vervolgde kerk in baie meer haglike omstandighede sedert die begin van die pandemie.
Die tweede deel van die vers sê Jesus het gekom sodat ons ’n oorvloedige lewe kan hê. Jesus het reeds betaal dat ons meer as genoeg finansies kan hê, dat ons fisies en geestelik gesond kan wees en dat ons genoeg het om ander te help. Dit is hartseer, maar die een positiewe ding van moeilike omstandighede is, dat meer mense na God draai vir hulp. Ek sien ’n defnitiewe geestelike herlewing terwyl ek ook sien hoe gruwelike sondes aanvaarbaar gemaak word.
“Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”
JESAJA 5:20 AFR53
Ons weet dat soos die lig toeneem, sal die duisternis ook toeneem.
“STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.”
JESAJA 60:1-3 AFR53
Wat doen ons as ons nie die lewe in oorvloed ervaar soos Johannes 10 vers 10 beloof nie? Profeet Bob Jones het op ’n keer vertel hoe hy gebid het dat God siekte en euwels wegneem. God het vir Bob gesê dat Hy vir ons die outoriteit gegee het om siekte en euwels te beheer. Jesus het vir ons baie voorbeelde gegee hoe om teen siektes te bid. Baie keer het Jesus mense net gesond verklaar en dit het gebeur. Jy is nie weerloos teen satan se planne nie. Jy het ’n wil van jou eie en jy kan krag ontvang van die Heilige Gees om te regeer oor die aarde. Jesus het Homself gedurig afgesonder in God se teenwoordigheid en het daarna vol krag teruggekeer om die wêreld ’n beter plek te maak.
“Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld.”
MATTHÉÜS 11:12 AFR53
In die Nuwe Testament het dit begin met Jesus en net 12 dissipels wat outoriteit neem. Gaan jy tyd spandeer by die Vader en outoriteit neem oor satan en sy planne?