Jesus kan
- 3 minutes read - 446 wordsWanneer ek wil bak neem ek eerstens die resep. Dan pak ek al die bestanddele wat ek benodig op die tafel uit. As ek sien ek benodig eiers en meel, gaan ek nie die melk, botter, suiker, bakpoeier en sout meng en dit in die oond sit nie. Ek weet ek moet al die bestanddele afmeet en volgens die instruksies meng en daarna by die regte temperatuur vir die regte tyd bak. Wanneer ons sien ons het al die bestanddele reg gemeng en die oond is by die perfekte temperatuur, verwag ons om ’n perfekte koek uit die oond te haal. M.a.w wat ons insit skep ’n verwagting van wat ons gaan uitkry. Dit geld in meeste areas van ons lewens. As ek werk kry ek ’n salaris. As ek harder werk en meer tyd insit kry ek beter resultate. Dit is die logika waarmee die wêreld en vlees werk. Ons kan nie hierdie logika gebruik wanneer dit by Jesus kom nie.
Jesus, wat sonder sonde was, het betaal vir die hele wêreld se sonde.
God het jou so lief dat Hy toegelaat het dat Sy sondevrye Seun aarde toe kom om gekruisig te word vir jou.
God het alle mense geskep sodat Hy ’n familie het, maar niemand word gedwing om Hom te volg nie.
Hy het perfekte planne vir elke mens geskep, maar Hy is so lief vir jou dat jy ’n keuse het of jy dit wil doen of nie.
Een ontmoeting met Jesus in ’n droom, kan ’n sondige mens wat Christene vervolg en martel, verander in ’n vurige Jesus volgeling. Dit het met Paulus gebeur en gebeur vandag steeds.
Jou eenvoudige gebed kan siekes genees of selfs die dooies weer lewendig maak. Daar is ’n hele stoorkamer in die Hemel vol liggaamsdele en God is reg om dit af te stuur om iemand te genees.
Ons is geneig om ons roete/plan/manier van doen te sien. God het Sy eie manier. Hy maak en skep uit chaos. Op aarde het ons sekere bestanddele nodig om ’n koek te bak. As ons nie eiers of meel het nie gaan ons nie die ander bestanddele meng en in die oond stop en verwag om ’n perfek gebakte koek te kry nie. Wel Jesus kan dit doen. Iemand kan sterwend wees van kanker en al sy organe kan oppak en dokters sal sê maak reg vir sy begrafnis, maar Jesus kan kom en die persoon genees.
Moenie probeer verstaan hoe God uitkoms gaan bring nie. Dis ’n mors van jou tyd en energie. Al bestanddeel wat jy benodig is geloof so groot soos ’n mosterdsaad*.
*Volgens google is ’n mosterdsaad piepklein; slegs 1-2 mm groot.