Jesus se verheerliking
- 4 minutes read - 763 wordsMarkus 9:2-13, Matthéüs 17:1-13, Lukas 9:28-36
Die volgorde van die gebeure verskil ’n bietjie tussen die 3 evangelies.
Jesus het Johannes, Jakobus en Petrus saam met Hom op ’n berg geneem, waar daar niemand anders was nie. Volgens Lukas was Jesus besig om te bid toe Sy voorkoms skielik verander het. Jesus se gesig en klere het blink geword en Sy klere was spierwit, asof ’n helder lig op Hom geskyn het. Skielik was Moses en Elía ook daar en het met Jesus gepraat. Die 3 dissipels was verskrik en Petrus, wat nie geweet het wat om te sê nie, het voorgestel hulle bou 3 hutte. Soms wil ons hemelse gebeure met ons vlees intrepeteer en dan gebeur wat met Petrus gebeur het. Onthou die Heilige Gees is nog nie uitgestort op hierdie stadium nie.
God het in ’n wolk verskyn en aangekondig dat Jesus Sy Seun is en die dissipels het omgeval in die teenwoordigheid van die Heilige God. Volgende keer as jy voel of jy wil omval wanneer God se heerlikheid verskyn, sal jy verstaan wat met die dissipels gebeur het. Mense het in die Ou en Nuwe Testament omgeval in God se teenwoordigheid en dit gebeur vandag steeds. Toe hulle die berg afstap het Jesus die dissipels gevra om die gebeure nie aan ander oor te vertel, tot nadat Hy uit die dood opgewek is, nie. Die dissipels het glad nie verstaan wat Jesus aan hulle sê nie. Hulle was so gewoond daaraan dat Jesus gelykenisse vertel dat hulle nie kon verstaan wat Hy sê toe Hy reguit met hulle praat nie. Wees dus waaksaam om te hoor wat God vir jou sê. Moenie verbaas wees as God met jou op ’n nuwe manier praat nie. Vra die Heilige Gees om jou te help verstaan wat Hy sê. Moenie probeer om hemelse dinge met jou vlees te verstaan nie, maar met die Gees.
Die boek van Openbaring waarsku die 7 gemeentes om te hoor, wat God sê. Om die ewige lewe te verkry is dit dus noodsaaklik dat jy hoor wat God sê. Jesus klop vandag steeds aan die deur van jou hart, gaan jy Hom hoor en innooi?
“Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.”
OPENBARING 2:7 AFR53
“Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.”
OPENBARING 2:11 AFR53
“Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ’n wit keursteen, en op dié steen ’n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.”
OPENBARING 2:17 AFR53
“En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. En Ek sal hom die môrester gee. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
OPENBARING 2:26-29 AFR53
“Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
OPENBARING 3:5-6 AFR53
“Wie oorwin, Ek sal hom ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
OPENBARING 3:12-13 AFR53
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”
OPENBARING 3:20-22 AFR53