JESUS WOON BINNE JOU
- 4 minutes read - 640 words“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”
OPENBARING 3:20 AFR53
Jesus wil ingenooi word in elke mens se hart. Wanneer ’n vreemdeling by jou huis kom sal jy net hom laat inkom tot by die voorportaal. Wanneer vriende kom kuier sal hulle vir ’n ruk in die sitkamer sit en miskien koffie drink en dan weer gaan. Maar wanneer Jesus kom wil Hy permanent intrek, Hy wil in elke deel van jou lewe ingenooi word. Hy is ’n ware Heer en sal nie instap waar jy Hom nie innooi nie. Jesus wil hê jy moet Hom innooi in jou hartseer, maar ook in jou blydskap. Hy wil ingenooi word in jou ontspanning, maar ook in jou werk. Niks is te moeilik vir Jesus nie. Jou finansies, jou kinders, jou huwelik, jou gesondheid, jou vriendekring, sonde waarmee jy sukkel is alles goed waarmee Jesus jou kan help. Om “saam maaltyd te hou” beteken dat jy kommunikeer met Jesus asof julle beste vriende is.
“Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.”
PSALMS 23:4-6 AFR53
Die Bybel sê dat Jesus en die Vader een is. Wanneer jy Jesus innooi leef Jesus en die Vader dus binne jou, maar jy is ook binne die Vader. Ons weet ook dat ons die Heilige Gees kan ontvang. Die drie-enige God woon dus binne jou.
“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.”
JOHANNES 14:16-17, 20 AFR53
Ons is so gewoond dat mense kom en gaan uit ons lewens dat baie mense begin dink dat God ook weghardloop wanneer ons sonde doen. Die Bybel maak dit duidelik dat die Heilige Gees vir ewig by ons is. In die Ou Testament moes God ook vir Josua herinner dat Hy hom nie sal verlaat nie.
“Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan.”
JOSUA 1:9 AFR53
Ons moet besef dat wanneer mense sonde doen kies hulle om hul rûe op God te draai. God wag altyd met oop arms vir ons. Die gelykenis van die verlore seun illustreer die liefde van ons Vader so mooi (Lukas 15:11-32). Die seun het sy sonde bely en die Vader het die seun bederf met klere en ’n ring. Die Vader het ’n fees gevier omdat Sy seun teruggekeer het.
“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
II PETRUS 3:9 AFR53 “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
LUKAS 15:10 AFR53
God het alle mense geskape om ’n intieme verhouding met Hom te hê. Nooi Hom gerus in elke area in en kyk hoe jou lewe verander.