JESUS IS DIE OPLOSSING
- 2 minutes read - 281 words1 Korinthiërs 1
Korinthe is in Griekeland. Dit moes oor die jare baie keer herbou word. Daar was aardbewings en ‘n vuur het dit verwoes. Die ruïnes van die tempel van Apollo is steeds daar. Paulus het Korinthe besoek op sy derde reis. Hy het 18 maande daar gebly en vir Priscilla en Aquila daar ontmoet. Later (53-55 n.C.) skryf hy aan Korinthe vanuit Efése.
Korinthe was in ‘n area vol afgodsaanbidding, maar dit was nie die enigste probleem nie. Die Jode was so godsdienstig en vol van die wet dat hulle Christene vervolg het. Die Romeinse hof wou nie betrokke raak nie en godsdienstige mense sou Christene openlik aanval voor die Romeine (Handelinge 18). Gelukkig het sommige van hulle tot inkeer gekom. Joodse leiers van die sinagoge (Crispus en Sósthenes) het tot bekering gekom. Die grootste probleem was egter onenigheid tussen gemeentelede.
Vandag sien ons openlike satan aanbidding en ons sien ook hoe godsdienstige mense Christene aanval. Gelukkig kom mense ook tot bekering en kan hulle ‘n verskil maak. Ek glo ons grootste probleem is egter steeds Christene wat nie kan saamwerk nie. ‘n Verdeelde huis kan nie bly staan nie.
Paulus sluit die hoofstuk af deur ons te herinner dat die wysheid van hierdie wêreld niks anders as dwaasheid is nie. As jy steeds alles glo wat die wêreld vir jou vertel is dit tyd dat jy weer 1 Korinthiërs 1:17-31 lees. Die wêreld ken nie vir Jesus nie. Wêreldse leiers het nie goeie planne vir jou lewe nie. Slegs die krag en wysheid van God kan jou deur hierdie stormagtige periode dra.
“Christus, die krag van God en die wysheid van God.”
- 1 Korinthiërs 1:24b