Jesus se salwing
- 4 minutes read - 766 words“kom 'n vrou na Hom met 'n albaste fles met baie kosbare salf, en sy gooi dit op sy hoof uit terwyl Hy aan tafel was.”
MATTHÉÜS 26:7 AFR53
Al 4 evangelies het die gebeurtenis aangeteken, maar hulle verskil van mekaar. ‘n Vrou het ingekom met ‘n fles nardusolie en Jesus se kop en of voete gesalf. Volgens Matthéüs, Markus en Lukas het ‘n sondares vir Jesus gesalf. Volgens Johannes was die vrou Maria, die suster van Lasarus en Martha. Later in Lukas 8:2 lees ons dat Jesus 7 duiwels uit Maria Magdaléna gedryf het. Gevolglik glo sommige mense dat Maria Magdalena die vrou by Jesus se voete was. Maria se trane het op Jesus se voete gedrup en sy het haar hare gebruik om Hom af te droog. Sommige mense dink Jesus was by 3 etes en 3 vroue het Hom gesalf. ‘n Mens kan vaskyk teen die verskille in die 4 evangelies of ‘n mens kan kyk na die simboliek in elkeen:
- In 1 Samuel 10:1 het Samuel ‘n kruik met olie oor Saul se kop uitgegiet om hom te salf as koning. Deur olie oor Jesus se kop te giet het die vrou Jesus gesalf as Koning.
- Deur olie oor Sy liggaam te gooi is Jesus gesalf om Sy missie op Aarde te voltooi. Ons weet Jesus was gesalf om die evangelie te verkondig en vryheid te bring - Lukas 4:17-18. Volgens die Bybel het die vrou Jesus gesalf vir Sy begrafnis. Ons weet Jesus het nie ‘n gewone begrafnis gehad nie en gewoonlik word lewende mense nie gesalf vir hulle begrafnis nie. Jesus moes aan die kruis sterf en afgaan na die hel om die sleutels vir ons vryheid te gaan haal. Jesus het die salwing van die Heilige Gees nodig gehad om Sy missie suksesvol te voltooi. Ek en jy benodig dit ook.
- Deur olie op Jesus se voete te gooi was ‘n teken dat Hy die bruidegom is. Jong vroue sou ‘n albaste houer vul met kosbare parfuum. Wanneer hulle trou het hulle die kosbare olies oor die voete van hulle bruidegom gegooi.
- Dit maak ook nie regtig saak wie die vrou was nie. ‘n Vrou wat voorheen vol sonde was (ek en jy) kon raaksien wie Jesus was en het Hom verhoog. Die vrou het die vlekkelose bruid voorgestel wat aan die voete van Jesus sit. Die vrou se gehoorsaamheid het die hele vertrek gevul met ‘n lieflike reuk. Wanneer jy in gehoorsaamheid werk aan jou missie is jou dade ‘n lofsang tot God en veroorsaak dit ‘n aangename reuk. Die vrou sal altyd onthou word vir wat sy gedoen het.
Jesus is ons Koning.
Jesus het God verheerlik deur Sy Godgegewe missie op Aarde te voltooi.
Jesus is ons Bruidegom.
Jy is die bruid - Skep jy ‘n aangename geur? Waarvoor sal jy onthou word?
Gehoorsaamheid aan God is so belangrik. Jesus het net vol liefde God se wil gedoen. Hy het nie omgegee hoeveel volgelinge Hy gehad het nie. Hy het nie omgegee of mense gehou het van wat Hy gesê of gedoen het nie.
Wanneer beskou jy jou missie as suksesvol?
Is jy suksesvol wanneer jy duisende “likes” of volgelinge het?
Is jy suksesvol wanneer almal weet wie jy is?
Of is jy suksesvol wanneer jy ‘n onbekende is wat by Jesus se voete sit en almal is teen jou omdat jy kosbare olie op jou Skepper “vermors” het?
“En toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit.”
MARKUS 14:3 AFR53
“En toe 'n vrou in die stad, wat 'n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy 'n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.”
LUKAS 7:37-38 AFR53
“En Maria het 'n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf.”
JOHANNES 12:3 AFR53
“Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis.”
MATTHÉÜS 26:12 AFR53
“Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf.”
MARKUS 14:8 AFR53