JESUS VERANDER WATER IN WYN
- 3 minutes read - 492 wordsJohannes 2:1-12
Op die derde dag was daar ‘n bruilof by Kana in Galiléa. Maria, Jesus en Sy dissipels was by die bruilof. Maria het vir Jesus gesê dat die wyn opgeraak het en Jesus moes ‘n plan maak. Jesus het gevra dat hulle 6 klipkanne vol water maak. Hierdie 6 klipkanne is gewoonlike vir Joodse reinigings seremonies gebruik. Toe die gaste die wyn drink was dit beter as die wyn wat hul aan die begin van die seremonie gekry het. Hulle was verbaas dat die beste wyn vir laaste gehou is.
Hierdie hele verhaal is vol simboliek. Dit was die eerste wonderwerk wat Jesus gedoen het en vertel Sy storie. Jesus sal terugkeer op die derde dag - Exodus 19:11, Lukas 23:32. Die derde dag is 2000 jaar na Sy Hemelvaart, want ‘n dag is vir God soos ‘n 1000 jaar - 2 Petrus 3:8. Dan sal daar ‘n groot bruilofsfees gehou word - Openbaring 19:9,17. Jesus en almal wat naby Hom geleef en gevolg het sal die bruilof bywoon.
Toe Jesus op die toneel verskyn het, het die Jode onder die wet geleef. Daar was baie ekstra reëls en regulasies by God se Woord gevoeg. Die mense se harte was verhard en het swaar gedra aan die las van die wet. Simbolies was daar geen wyn van God se teenwoordigheid nie. Jesus, die lewende water, moes kom om die 6 kanne met water te vul en in wyn te verander. Die kanne is gebruik vir uiterlike reiningings seremonies, maar dit kon nie die mense se sonde weg was nie. Dit kon ook nie hulle harte verander nie. Die mens is op die sesde dag geskape en daarom is 6 simbolies van die mens. Jesus het gekom om die mens (waterkanne) te vul met Homself - Openbaring 3:20. Na Jesus se Hemelvaart moes die mens ook gevul word met die Heilige Gees. Die Heilige Gees is die nuwe wyn wat mense laat dronk lyk in die Gees - Handelinge 2. Die beste wyn, die Heilige Gees, is uitgestort vir die laaste dae.
“En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die Here gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die Here sal roep.”
JOËL 2:28-32 AFR53
Ons leef in hierdie laaste dae. Leef vol van God se Gees sodat God verheerlik kan word en ander Jesus wil begin volg.